Nuus 11:00
BULLETIN 13 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra alle begunstigdes van swart ekonomiese bemagtiging om hul stem te laat hoor
# Die DA wil hê die openbare-orde-polisie moet Operasie Dudula stop
# En die Withuis sê die vergadering tussen Trump en Putin sal slegs ‘n luister-geleentheid wees
# Die ANC sê hoewel hy kennis neem van die toenemende stemme wat opgaan teen swart ekonomiese bemagtiging, is die wette nodig om transformasie te bevorder. ‘n DA-beleidsdokument vra die verwydering van wat hy beskryf as vernietigende ANC-beleid soos swart ekonomiese bemagtiging en grond-onteiening. Die ANC sê ontledings van 2023 en verlede jaar toon die beleid is goed vir swart Suid-Afrikaners, met ongeveer 112-miljard-rand wat in swart ondernemings belê is. Hy voeg by diegene wat voordeel trek uit swart ekonomiese bemagtiging moet dit verdedig.
# Die DA veroordeel Operasie Dudula se belemmering en intimidasie van buitelandse burgers wat gesondheidsorg benodig, veral in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die groep beweer die land se gesondheidsorgstelsel is oorlaai met ongedokumenteerde buitelanders. Karl le Roux van die DA sê hulle het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, versoek om openbare orde-polisielede te ontplooi by inrigtings waar Operasie Dudula toegang belemmer tot mense se grondwetlike reg op gesondheidsorg:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het beloof om ‘n hofbeslissing na te kom wat die metro beveel om Tshwane se varsproduktemark te herstel en munisipale dienste te verskaf. Die Gautengse Hooggeregshof het bevind die metro het versuim om ʼn hofbevel van Oktober 2022 na te kom dat Tshwane die mark in stand moet hou en opgradeer. Die burgemeester se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê die mark is een van die metro se waardevolste strategiese bates:
Nuus uit die buiteland:
# Die Withuis beskryf Vrydag se vergadering in Alaska tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, as ʼn luistergeleentheid. Rusland het aangedui hy sal ʼn skietstilstand met Oekraïne oorweeg indien Kiëf onttrek uit die dele van Donbas wat hy nog beheer. Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, verwerp die voorstel. Die Withuis se media-sekretaris, Karoline Leavitt, sê Trump gaan voorbereid en vol hoop na die vergadering:
# Sokker: Engeland se beheerliggaam het die voormalige Premierliga-skeidsregter, David Coote, vir agt weke geskors oor aanmerkings wat hy verlede jaar oor die gewese afrigter van Liverpool, Jurgen Klopp, gemaak het. ‘n Video oor die aangeleentheid is wyd versprei. Coote sê hy het gedink hy was in ‘n privaat gesprek toe hy die aanmerkings gemaak het, maar het erken dat dit kru en onvanpas was. Die Premierliga het hom vroeër afgedank terwyl die Europese beheerliggaam, UEFA, hom tot Julie volgende jaar verbied het om wedstryde te hanteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-445-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….