Nuus 06:00
BULLETIN 13 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê ekonomiese hervormings is dringend nodig om werk te skep
# Israel bombardeer Gazastad
# En rugby: Agtien Wêreldbeker-wenners sal Saterdag teen die Wallabies uitdraf
# Die DA sê die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname toon dat ekonomiese hervormings vir groei en werkgeleenthede dringend ingestel moet word. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het met 0,3-persentasiepunte in die tweede kwartaal van hierdie jaar gestyg tot 33,2-persent. Volgens Statistiek SA is 140-duisend meer mense werkloos in vergelyking met die eerste kwartaal. Michael Bagraim van die DA sê die ANC se ekonomiese beleid werk nie:
# Die Stalwart’s Foundations Forum doen ‘n beroep vir inklusiewe, eerlike nasionale dialoë om Suid-Afrika se aanhoudende uitdagings soos werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te spreek. Thulasizwe Makhanya van die forum vra vir werklike skakeling tussen generasies, politieke agtergronde en gemeenskappe. Dit sluit onder andere die stigtings van Moses Kotane en Lilian Ngoyi in. Die Vryheidsfront Plus weier om deel te neem en die MK-party gaan ook nie daar wees nie, en veroordeel die nasionale dialoog as ‘n duur politieke foefie.
# Die openbare uitsaaier, die SABC, het aangekondig hy beplan om 180 werkers in sy kommersiële verkope-afdeling af te dank as deel van ‘n grootskaalse herstruktureringsprogram om finansiële druk die hoof te bied. Die uitsaaier het die uitsaaivakbond, BEMAWU, in kennis gestel van die beplande veranderings wat gemik is op die verbetering van inkomste en langtermyn-volhoubaarheid. Onderhandelings met die vakbond sal Vrydag begin, met ‘n finale besluit oor die afleggings wat in Oktober verwag word, en afdankings wat aan die einde van November in werking sal tree.
# Die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, het ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om geduldig te wees met die munisipaliteit nadat die kantore van Binnelandse Sake in Germiston aan die brand gesteek is. Xhakaza het buite die gebou gesê om regeringseiendom aan die brand te steek is onaanvaarbaar en het die dade van vandalisme en brandstigting veroordeel. Hy het bygevoeg dat die polisie die betrokke persone, insluitende die aanstokers, wil opspoor om seker te maak dat hulle verantwoordelik gehou word vir die skade wat gedurende die protes-aksie aangerig is:
# Gazastad loop deur onder ‘n ernstige lugaanval terwyl Israelse magte voorberei om die stad te beset. Israel se oorlogskabinet het Maandag gestem om Gazastad te beset, ‘n stap wat veroordeel is tydens ‘n noodvergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Intussen het die Verenigde Koninkryk, die Europese Unie, Australië, Kanada en Japan in ‘n verklaring gesê dat ‘n hongersnood voortduur en onmiddellike, permanente en daadwerklike stappe geëis om die toegang van hulp na Gaza te vergemaklik. Israel ontken voortdurend dat daar hongersnood in Gaza is.
# Rugby: ‘n Uiters ervare Springbokspan mik vir ‘n vyfde agtereenvolgende oorwinning oor die Wallabies in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets op Ellispark in Johannesburg. Hoofafrigter Rassie Erasmus het 18 Wêreldbekerwenners in sy wedstrydgroep terwyl slegs drie spelers – Jan-Hendrik Wessels, Edwill van der Merwe en Asenathi Ntlabakanye – vyf wedstryde of minder vir die Bokke gespeel het. Erasmus het op ‘n vyf-drie verdeling op die bank besluit. Hy glo hulle sal die soort rugby kan speel wat hulle teen Australië will speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-960-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….