Nuus 17:00
BULLETIN 12 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gee binnegevegte in die regering die skuld vir ‘n verdere 140-duisend Suid-Afrikaners wat hulle werk verloor
# ‘n Nuwe befondsingsmodel vir NSFAS word binne drie maande verwag
# En krieket: Brevis vuur die Proteas aan tot ‘n oorwinning met 53-lopies in die tweede T20 teen Australië
# ActionSA is bekommerd oor die stygende werkloosheidsyfer, met nog 140-duisend mense wat hul werk verloor het tussen April en Junie. Volgends die nuutste kwartaallikse arbeidsmag-opname het die amptelike werkloosheidsyfer tot 33,2-persent gestyg, wat beteken dat een uit drie werksoekers nie werk kry nie. Alan Beesley van ActionSA skryf dit toe aan binnegevegte binne die regering van nasionale eenheid. Hy waarsku dat die Amerikaanse tariefverhoging van 30-persent die situasie kan vererger:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die regering sal die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente bestendig maak en binne drie maande ‘n nuwe volhoubare studentebefondsingsmodel in gebruik neem. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê dit is daarop gemik om betroubare finansiële ondersteuning vir studente te verseker en toegang tot naskoolse onderwys te verbeter sodat meer jongmense sonder finansiële hindernisse kan studeer:
# Die Departement van Binnelandse Sake gaan met Capitec en FNB saamwerk om slim ID- en paspoortdienste by banktakke landwyd aan te bied. Capitec sal van Oktober hierdie dienste by uitgesoekte takke bekendstel, met ‘n teiken van 100 teen vroeg volgende jaar, terwyl FNB sy eie toepassing sal aanpas. Minister Leon Schreiber sê die gebruik van banke se infrastruktuur vir biometriese bevestiging verkort wagtyd. Die departement beplan om teen 2029 uit te brei na een-duisend takke, met voorkeur wat gegee sal word aan onderbediende gebiede. Meer banke sal na verwagting by die projek aansluit.
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd oor berigte dat lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat op vredesendings in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is, nie hul volle toelaes ontvang het nie. Cosatu beskuldig senior generaals dat hulle fondse steel van gewone soldate wat hul lewens op die spel plaas. Matthew Parks van Cosatu vra die minister van Verdediging, Angie Motshekga, om beslissend op te tree teen korrupsie en te verseker ontplooide lede word billik vergoed:
# Krieket: Dewald Brevis se skitterspel het Suid-Afrika gehelp om die tweede T20 teen Australië in Darwin met 53 lopies te wen en die gasheer se lopie van nege agtereenvolgende oorwinnings te stuit. Sy onoorwonne 125 van slegs 56 balle het die Proteas laat eindig op ‘n reuse-218 vir sewe. Australië se paaltjies het daarna bly tuimel en hulle is uitgeboul vir 165. Corbin Bosch en Kwena Maphaka het albei drie paaltjies geneem. Die beslissende wedstryd word Saterdag in Cairns gespeel nadat Australië die eerste kragmeting gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-117-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….