Nuus 11:00
BULLETIN 12 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Aartsbiskop Makgoba moedig die G20 aan om vennootskappe met geloofsleiers te sluit vir insluiting
# TLU SA is bekommerd oor die uitwerking van die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne
# En die Trump-administrasie se aansoek om groot-juriegetuienis in die Ghislaine Maxwell-saak bekend te maak word geweier
# Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, het wêreldleiers gevra om saam met geloofsorganisasies te werk om die lewens van veral die armes en kwesbares te verbeter. Makgoba het op die G20 Intergeloofs-forum in Kaapstad regerings aangemoedig om te belê in programme wat lewens verbeter en vrede bevorder. Hy het beklemtoon dat geloofsnetwerke betroubare voetsoolvlak-vennote is en saam met politieke en sakeleiers moet werk om solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid te bevorder:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die landbousektor word bedreig deur die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne. Die wetsontwerp se doel is om belangrike regulatoriese gapings uit te wis, lisensiëringsprosesse te vereenvoudig en billike verspreiding van mynvoordele te verseker. Bennie van Zyl van TLU SA sê die wyer toekenning van kleinskaalse en vaklui-mynboupermitte soos die wetsontwerp voorstel, kan lei tot ‘n dramatiese toename in mynboubedrywighede op landbougrond, sonder die nodige omgewings- en landboubeheer:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor die volgende twee dae aansoeke aan om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en lewenslange vonnisse in die Joslin Smith-saak. Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn is in Mei tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir mensehandel en tien jaar vir ontvoering. Hulle saak hou verband met die verdwyning van Smith se jong dogter in Februarie verlede jaar. Regter Nathan Erasmus sal ook besluit of die gewese beskuldigde wat staatsgetuie geword het, Lourentia Lombaard, strafregtelik aangekla moet word. Joslin is steeds nie gevind nie.
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Amerikaanse regter het die Departement van Justisie se aansoek verwerp om grootjurie-getuienis van die Ghislaine Maxwell-saak bekend te maak. Die departement wou hê grootjurie-getuienis en bewysstukke van sake waarby die oorlede finansier en veroordeelde seksoortreder, Jeffrey Epstein, betrek is, moet bekendgemaak word. Maxwell, wat ʼn jare lange vennoot van Epstein was, dien tans tronkstraf van 20-jaar uit vir sekshandel en ander oortredings wat met Epstein verband hou. Regter Paul Engelmayer sê die Maxwell-getuienis is nie van betekenisvolle geskiedkundige of openbare belang nie.
# Rugby: Die Springbok-vrouegroep kom vandag in Johannesburg byeen voor hulle Donderdag na Engeland vertrek vir die Wêreldbekertoernooi. Twee-en-dertig spelers onder leiding van Nolusindiso Booi is gekies en die span spog met spelers wat altesaam 689 keer vir die Bokke uitgedraf het. Suid-Afrika kom in Groep D teen Brasilië, Italië en Frankryk te staan. Die Bok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê hy is opgewonde oor die kombinasies waarmee hulle kan werk en hy glo dit sal hulle tot in die uitspeelrondes bring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-5-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….