Nuus 09:00
BULLETIN 12 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA is bekommerd oor die uitwerking van die nuwe Minerale Hulpbronne-wetsontwerp
# Judges Matter verwelkom ‘n formele beleid oor seksuele teistering
# En Gemengde Gevegskuns: Du Plessis sê hy is nie die gunsteling in sy volgende geveg nie
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die landbousektor word bedreig deur die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne. Die wetsontwerp se doel is om belangrike regulatoriese gapings aan te spreek, lisensiëringsprosesse te vereenvoudig en billike verspreiding van mynvoordele te verseker. Bennie van Zyl van TLU SA sê die wyer toekenning van kleinskaalse en vakman-mynboupermitte soos die wetsontwerp voorstel, kan lei tot ‘n dramatiese toename in mynboubedrywighede op landbougrond, sonder die nodige omgewings- en landboubeheer:
# Judges Matter sê hoofregter Mandisa Maya se nuwe Beleid oor Seksuele Teistering vir die regbank is ʼn stap nader aan veilige howe. Volgens die nuwe beleid sal daar geen verdraagsaamheid teenoor seksuele teistering wees nie. Aanspreeklikheid word verseker deur tugoptrede, ʼn veilige werksplek en ʼn aanmeldingstelsel wat vertroulik en regverdig is en slagoffers teen vergelding beskerm. Judges Matter sê howe het lank ʼn kultuur van geheimhouding en ontkenning gehandhaaf wat seksuele teistering betref. Hy sê die belangrikheid van amptelike beleid om seksuele teistering te bekamp kan nie oorbeklemtoon word nie.
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op premier Panyaza Lesufi om alle hostelle in die provinsie in lewensvatbare gesinseenhede te omskep ingevolge die hostelherontwikkelingsprogram. Die party het onlangs ‘n oorsigbesoek aan die Khutsong-hostel gebring wat die tuiste is van ongeveer een-duisend-500 inwoners. Mervyn Cirota van die DA sê die hostel se vensters is gebreek, daar is diep krake in die mure, geen water nie, en sanitasietoestande is betreurenswaardig:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het die moord op ses joernaliste in Gaza veroordeel. Vyf Al Jazeera-joernaliste, insluitend sy korrespondent, Anas al-Sharif, is Sondag in ‘n Israelse lugaanval dood. Nog twee is dood, insluitend ‘n vryskutjoernalis. Israel se weermag het gesê hy het Sharif geteiken en beweer hy was die hoof van ‘n terroristesel in Hamas. ‘n VN-woordvoerder Stéphane Dujarric sê minstens 242 joernaliste is in Gaza dood sedert die oorlog byna drie jaar gelede begin het :
# Gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis glo hy is die buiteperd wanneer hy sy middelgewig- wêreldkampioenskapstitel die derde keer verdedig. Hy veg die naweek in Chicago, Illinois, teen Khamzat Chimaev. Du Plessis het ‘n beroepsrekord van 23 oorwinnings en twee nederlae en het die afgelope 11 gevegte gewen, maar glo die Rus is die sterkste teenstander nog. Chimaev is onoorwonne na 14 beroepsgevegte. Du Plessis sê wat wel in sy guns tel, is sy unieke styl wat baie moeilik is om na te boots.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-999-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-352-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….