Nuus 06:00
BULLETIN 12 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Konvensie verduidelik die beraamde begroting vir die Nasionale Dialoog
# Donald Trump wil ‘die water toets’ met sy gesprek met Putin
# En krieket: Die Proteas hoop om die Aussies te keer om vandag hul tiende agtereenvolgende T20 te wen
# Die Voorbereidende Taakspan sê die geraamde begroting van 700-miljoen-rand vir die Nasionale Dialoog is ‘n voorlopige syfer. Die koste van die geleentheid het kritiek ontlok oor of die land so ‘n onderneming kon bekostig, gegewe die beperkings op die fiskus. Die eerste Nasionale Konvensie, wat tot die Nasionale Dialoog sal lei, sal Vrydag en Saterdag gehou word. ’n Woordvoerder van die Nasionale Konvensie, eerwaarde Zwoitwaho Nevhutalu, het beklemtoon dat hierdie inisiatief ‘n projek van die mense is en nie uitsluitlik ‘n regeringsonderneming nie:
Die voorsitter van die Staande Komitee oor Begrotings, Mmusi Maimane, het intussen kommer uitgespreek oor die gebrek aan ‘n duidelike befondsingsplan vir die komende Nasionale Dialoog. Maimane het die dialoog, wat gemik is op eenheid en die heroorweging van Suid-Afrika se toekoms, as kritiek beskryf, maar hy waarsku ook om nie hulpbronne wat vir sleuteldienste bedoel is, te gebruik nie. Die komitee het die Nasionale Tesourie vir duidelikheid gevra oor die befondsing, van impakstudies en versagtingsplanne. Hy het die belangrikheid beklemtoon van deursigtigheid, inklusiwiteit, en fiskale verantwoordelikheid om die sukses van die dialoog te verseker.
# Die Daily Maverick berig die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, se befondser is die sakeman en voorsitter van die Collen Mashawana-stigting en die Afribiz Groep, Collen Mashawana. Die stigting het na bewering ‘n Onafhanklike Ontwikkelingstrust-kontrak van 60-miljoen-rand ontvang om werkverskaffingskemas te bedryf, ten spyte van ‘n gebrek aan ervaring. Rekords toon Mashawana het betalings gemaak vir Malaka se luukse eiendom terwyl die Onafhanklike Ontwikkelingstrust meer as 23-miljoen-rand aan sy stigting oorgedra het. Intussen is honderde werkers van die Uitgebreide Openbare Werke-program steeds nie betaal nie en kommer bestaan oor die misbruik van openbare fondse.
# Die DA sê Gauteng het ‘n skokkende tien-jaar vertraging met toksikologieverslae vir onnatuurlike sterftes. Volgens die party, kan families wat wag vir antwoorde nie geregtigheid kry of hulle geliefdes begrawe nie. Die agterstand behels 140-duisend sake landswyd as gevolg van forensiese laboratorium-mislukkings, ten spyte van ‘n 703-miljoen-rand fasiliteit in Johannesburg wat nog nie in gebruik geneem is nie. Madeleine Hicklin van die DA vra die Parlement om treurende families te ondersteun en die stelsel te herstel:
# President Donald Trump het twyfel uitgespreek of sy ontmoeting Vrydag met die Russiese president Vladimir Putin in Alaska ‘n verskil sal maak in die bereiking van ‘n vredesooreenkoms. Hy het die ontmoeting beskryf as ‘n vergadering om die water te toets. Trump sê hoewel die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky nie deel van die vergadering is nie, sal hy met hom praat sodra hy ‘n billike ooreenkoms vir ‘n wapenstilstand op die tafel het:
# Krieket: ‘n Reuse-taak wag vandag in Darwin op die Proteas wat Australië moet weerhou van ‘n tiende agtereenvolgende T20-oorwinning om die reeks van drie wedstryde te probeer red. Die gashere het die besoekers in Sondag se eerste wedstryd met 17 lopies verslaan toe Tim David ‘n blitsige 82 van slegs 52 balle aangeteken het. Hy het begin kolf met Australië op 75 vir ses, maar het die Suid-Afrikaanse boulers gestraf en die gasheer kon herbou. ‘n Gebrek aan goeie vennootskappe het Suid-Afrika die nederlaag besorg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-788-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….