Nuus 17:00
BULLETIN 11 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Sport beweer rassistiese twiets is met kunsmatige intelligensie geskep
# Zelensky waarsku teen toegewings aan Putin tydens samesprekings met Trump
# En rugby: ‘n Sewes-onttrek aan die Australiese vroue se Wêreldbeker-groep
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, hou vol rassistiese twiets wat aanlyn rondgestuur word en omstredenheid veroorsaak, is deur kunsmatige intelligensie geskep en kom nie van hom nie. Dit volg op oproepe vir sy bedanking oor beweerde rassistiese opmerkings teenoor swart Suid-Afrikaners. Die minister hou vol hy het nog nooit rassistiese taal gebruik nie. Hy dring aan die publiek moet die egtheid van die plasings bevraagteken te midde van toenemende kommer oor KI-waninligting:
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê intussen daar is geen plek vir rassistiese taal in Suid-Afrika nie, net soos met die ‘Kill the Boer’-dreunsang. Hy het deurlopende optrede teen haatspraak gevra en moedig leiers aan om taal te vermy wat mense verdeel:
# Kopanang Africa Against Xenophobia is besorg dat Operasie Dudula en ander xenofobiese groepe steeds toegelaat word om buitelandse burgers te keer om na staatshospitale te gaan. Woordvoerder Dorothia Mabelebele sê dit volg nadat drie vroue by die Lillian Ngoyi-kliniek in Diepkloof, Soweto, in hegtenis geneem is omdat hulle aangedring het op identiteitsdokumente om pasiënte se nasionaliteit na te gaan. Sy sê Kopanang Africa eis daadwerklike optrede deur die regering en die polisie teen Operasie Dudula en ander xenofobiese groepe:
Nuus uit die buiteland:
# President Volodimir Zelensky van Oekraïne waarsku oor toegewings aan die Russiese president, Vladimir Putin, voor Vrydag se samesprekings met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump. Die beraad, wat tot dusver sonder Zelensky beplan word, sal die eerste wees tussen ‘n Amerikaanse en ‘n Russiese staatshoof sedert 2021. Kiëf is bekommerd dat ‘n ooreenkoms gesluit kan word wat Oekraïne dwing om grondgebied aan Rusland af te staan. Ministers van Buitelandse Sake van die Europese Unie bespreek vandag die beraad. Talle vrees enige ooreenkoms sonder Oekraïne kan tot onaanvaarbare toegewings lei.
# Rugby: Die Australiese Vroue se Wêreldbekerveldtog is ‘n ernstige knou toegedien met die ontrekking van hulle sewes-ster, Charlotte Caslick, as gevolg van ‘n enkelbesering. Die Olimpiese gouemedaljewenner en sewes-Wêreldbekerwenner het onlangs na die 15-speler-formaat oorgeslaan en is verlede week in die groep ingesluit ondanks ‘n operasie ‘n maand gelede. Sy het gehoop om betyds fiks te wees maar is noodgedwonge uitgelaat. Caslick word vervang deur die tiener-nuweling, Manua Moleka. Die toernooi begin volgende Vrydag in Engeland en die Wallaroos speel hulle eerste wedstryd die volgende dag teen Samoa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-573-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….