Nuus 15:00
BULLETIN 11 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onthul ‘n sespuntplan om Suid-Afrika se ekonomie te versterk
# Die Ontvanger onthul dat belastingbetalers die fiskus meer as 500-mijard-rand skuld
# En rugby: Kolisi speel agsteman teen die Wallabies
# Die DA het ‘n sespuntplan bekendgestel om die sukkelende ekonomie te laat herleef, werk te skep en beleggings te lok. Party-leier John Steenhuisen het op ‘n nuuskonferensie gesê dit teiken belangrike hindernisse tot groei, onder meer die herroeping van swart ekonomiese bemagtiging, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Onteieningswet. Hy sê dit fokus op die vermindering van rompslomp, die oplossing van die kragkrisis, opknapping van infrastruktuur, hervorming van openbare besteding en om plaaslike regering bestendig te maak:
# Die adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Johnstone Makhubu, het bekendgemaak dat belastingbetalers die fiskus meer as 500-mijard-rand skuld. Hy het op die Suid-Afrikaanse Instituut van Belasting se konferensie in Boksburg die noodsaaklikheid beklemtoon om die mobilisering van binnelandse hulpbronne te verskerp en digitalisering en kunsmatige intelligensie aan te gryp om aan die groeiende inkomstevraag te voldoen. Makhubu waarsku oor die uitdaging van ‘n verouderende werkersgroep en vra die werwing van nuwe talent, asook verhoogde belegging in belastingadministrasie-vermoë:
# Die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering, in vennootskap met die Pan African Collective for Evidence, het Suid-Afrika se eerste kunsmatige intelligensie-aangedrewe Lewende Bewyskaart bekendgestel om geslagsgeweld en vrouemoord te beveg. Andile Madonsela van die kollektief sê die platform voeg navorsing onmiddellik by, wat beleidmakers en aktiviste help om suksesvolle optrede te dryf. Sy sê dit verleen veerkragtigheid in die voorste linie en dringende, bewysgedrewe verandering om geslagsgeweld te beëindig:
# Rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi sal die nommer agt-trui dra in Saterdag se Rugbykampioenskaps-openingswedstryd teen die Wallabies op Ellispark in Johannesburg. Dit is die eerste keer wat hy die span sal aanvoer van die agterkant van die skrum. Aphelele Fassi begin op heelagter, André Esterhuizen is binnesenter en Manie Libbok losskakel. Eben Etzebeth en Lood de Jager is die slotpaar. Die Bokafrigter, Rassie Erasmus, verwag ‘n uitdagende wedstryd nadat Australië onlangs die Britse en Ierse Leeus geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-651-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-352-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-55-sent per vat.
# En laastens, New Line se gruwelfliek, Weapons, het die naweek kritici en gehore betower en in sy eerste naweek boaan die trefferlys verskyn by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Die fliek met Julia Garner en Josh Brolin in die hoofrolle gaan oor ‘n groep vermiste kinders. Disney se Freakier Friday met Lindsay Lohan en Jamie Lee Curtis het sy debuut op nommer twee gemaak. Disney en Marvel se superheld-film, The Fantastic Four: First Steps, is derde. Universal en DreamWorks Animation se The Bad Guys 2 en Paramount se The Naked Gun voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….