Goeie Nuus
BULLETIN 11 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse regisseur Ryan Kruger se uitdagende wetenskapfiksie-rillerkomedie Street Trash wys nou in plaaslike teaters. Dis ‘n ongebonde opvolg van die 1987-kultusrolprent met dieselfde titel. Dit speel in 2050 in Kaapstad af waar hawelose wanaangepastes ‘n sameswering onthul om armes in ‘n geheimsinnige chemikalie bekend as “V” op te los. Die rolprent het gehore wêreldwyd oorromplel op feeste in onder meer Nederland, Duitsland en Switserland. Slegs Suid-Afrikaanse akteurs is ingespan, insluitend Sean Cameron Michael, Donna Cormack-Thomson en Alex Joe Vaz.
New Line se gruwelfliek, Weapons, het intussen die naweek kritici en gehore betower en in sy eerste naweek boaan die trefferlys verskyn by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Die fliek met Julia Garner en Josh Brolin in die hoofrolle gaan oor ‘n groep vermiste kinders. Disney se Freakier Friday met Lindsay Lohan en Jamie Lee Curtis het sy buiging op nommer twee gemaak. Disney en Marvel se superheld-film, The Fantastic Four: First Steps, is derde. Universal en DreamWorks Animation se The Bad Guys 2 en Paramount se The Naked Gun voltooi die topvyf.
# ‘n Senior dosent aan die Noordwes-universiteit, Moleboheng Mokhele-Ramulumo, is ‘n finalis in die Onderwys-kategorie van Suid-Afrika se Veertig Onder 40-toekennings vir 2025. Die toekennings vereer 40 Suid-Afrikaanse leiers jonger as 40 wat deur leierskap en vernuwing ʼn invloed uitoefen. Die universiteit sê ʼn belangrike projek wat tot Mokhele-Ramulumo se erkenning bydra, is ReneWable Rangers, wat jong leerders deur storievertel, spel en kulturele toepaslikheid aan hernubare energie blootstel. Die projek maak voorsiening vir gestremde leerders en veeltaligheid en is geskoei op haar persoonlike ervarings met haar seuns.
# Die Tshwane Toerismevereniging sê voorbereidings vorder goed vir die Tshwane Toerismetoekennings wat Saterdag gehou sal word. Die toekennings vereer buitengewone toerismeprodukte, insluitend hotelle, aanbiedings en konferensie-sale en spesiale geleenthede. Vanjaar se tema is Welkom by die wildste hoofstad in die wêreld. Die vereniging se voorsitter, Susan Marais, sê die toekennings fokus daarop om uitnemendheid op veral vier gebiede te erken. Dit is bydrae en volhoubaarheid in die gemeenskap, interne omgewing en spankultuur, samewerking in ondernemings, en betrokkenheid, groei en verbetering van sake-ondernemings.
# En ten slotte: Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van ‘n aanvullende en alternatiewe kommunikasiehulpmiddel vir Afrikaanssprekende kinders met spraakprobleme ontwikkel. Dit sluit prente of simbole in waarna die kinders kan wys. Die span, in samewerking met Tobii Dynavox, het simbole en woorde aangepas om plaaslike werklikhede te weerspieël. Die projekleier, Juan Bornman, sê dit het ten doel om elke kind ‘n stem te gee en kommunikasie inklusief te maak, met planne om uit te brei na ander Suid-Afrikaanse tale.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….