Eko-minuut 13:30
BULLETIN 11 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# President Cyril Ramaphosa het openbare benoemings versoek vir kommissarisse om in die Presidensiële Klimaatkommissie te dien, aangesien die huidige termyn vanjaar eindig. Die kommissie verskaf toeligting oor Suid-Afrika se klimaatsreaksie en billike oorgang. Ramaphosa as voorsitter, sal die lede vir ‘n vyfjaartermyn aanstel kragtens die Wet op Klimaatsverandering. Die president het burgers aangemoedig om saam te werk vir die vorming van ‘n lae-koolstofvrystellings- en klimaatsveerkragtige toekoms.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die omgewingsgoedkeuring vir ‘n nuwe kernaanleg in Kaapstad is ʼn belangrike stap in die land se toekomstige energiemengsel. Dit volg nadat die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, die besluit van 2017 bekragtig het om Eskom toestemming te gee om ʼn nuwe kernaanleg by Duynefontein te bou. Ramokgopa sê kernkrag bied ʼn bewese manier om die energiemengsel te diversifiseer, die stelsel se bestendigheid te bevorder en inklusiewe ekonomiese groei te ondersteun
# En die Wêreld Meteorologiese Organisasie sê hy werk daaraan om vroeë hittewaarskuwingstelsels te bevorder onder die Early Warnings for All-projek. Die projek wil universele beskerming bied teen gevaarlike hidro-meteorologiese, klimaat- en verwante omgewingsprobleme deur lewensreddende vroeë waarskuwingstelsels. Uiterste temperature het tussen 2000 en 2019 jaarliks sowat 489-duisend hitteverwante sterftes veroorsaak. Hiervan was 36-persent in Europa en 45-persent in Asië. Die organisasie sê die projek sal lande ook help om hittegesondheids-aksieplanne te ontwikkel en seker te maak kwesbare bevolkings word betyds gewaarsku.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….