Nuus 09:00
BULLETIN 12 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande verwerp berigte dat hy ‘n verhoging van universiteitsgelde beplan
# Amerika en die Verenigde Koninkryk voer lugaanvalle uit op teikens wat met Houthi-rebelle verbind word
# En tennis, Carlos Alcaraz en Daniil Medvedev takel Noval Djokovic in Melbourne vir die plek as die wêreld se nommer een
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê hy is bewus van vals berigte dat hy van plan is om universiteitsgelde vir dié akademiese jaar te verhoog. Hy sou glo voorgestel het dat Suid-Afrika se 26 universiteite klas- en koshuisgelde met onderskeidelik 4,5-persent en 6,5-persent verhoog. Die departement se woordvoerder, Veli Mbele, sê die minister speel absoluut géén rol in die bepaling van die fooie van universiteite nie. Sulke besluite berus by universiteitsrade, maar hy gee wel leiding:
Die studente-vakbond SAUS het intussen gesê hy sal Nzimande, se voorgestelde fooiverhoging van 4,5-persent vir tersiêre instellings van 2025 tot ’27 teenstaan, sou die gerugte waar wees. Die liggaam se adjunk-sekretaris-generaal, Asive Dlanjwa, voer aan die verhoging sal die aantal studente wat deur befondsingskemas gedek word verminder, wat minderbevoorregte studente geweldig sal beïnvloed. Met ‘n verwagte begrotingsbesnoeiing van tien-persent vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vanjaar, waarsku Dlanjwa die verhoging van fooie kan bykomende finansiële druk op begunstigdes plaas, wat toegang tot onderwys vir behoeftiges verder kan belemmer.
# Die GOOD party in Nelson Mandelabaai het ‘n mosie van wantroue teen burgemeester Gary van Niekerk ingedien, as deel van pogings om stabiliteit en etiese leierskap in die munisipaliteit te herstel. Die burgemeester het verlede jaar talle mosies van wantroue oorleef. Janke Tolmay van die GOOD Party sê Van Niekerk toon toenemende vlakke van onbevoegdheid, wat gelei het tot die aansienlike verval van munisipale sake en ʼn ernstige gebrek aan etiese leierskap:
# Die weermagte van Amerika en die Verenigde Koninkryk het talle Houthi-teikens en Houthi-beheerde gebiede in Jemen aangeval. Dis die eerste keer dat aanvalle teen die Iran-gesteunde militante groep uitgevoer word sedert hy verlede jaar begin het om internasionale skepe in die Rooisee aan te val uit protes teen Israel se oorlog in Gaza. President Joe Biden van Amerika sê hy sal nie huiwer om verdere maatreëls toe te pas om Amerikaners en die vrye gang van internasionale handel te beskerm nie. Die Britse eerste minister Rishi Sunak sê die aanvalle is beperk, noodsaaklik en in ooreenstemming met optrede uit selfverdediging.
# Tennis: Novak Djokovic van Serwië en die Spanjaard Carlos Alcaraz staan albei ʼn kans om by die Australiese Ope weg te stap as die wêreld se nommer een. Die verdedigende kampioen, Djokovic, het tans ʼn effense voorsprong van 200 punte bo die 20-jarige Alcaraz. Die Spanjaard het geen punte om te verdedig nie nadat hy die Australiese Ope verlede jaar weens ʼn besering misgeloop het. Die Rus Daniil Medvedev het ook ʼn kans om na die Australiese Ope weer nommer een in die wêreld te wees, maar hy sal die titel moet wen en hoop nie Djokovic of Alcaraz haal die halfeindronde nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-998-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………