Nuus 08:00
BULLETIN 10 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie hou vol die Nasionale Dialoog sal voortgaan ondanks verdeeldheid
# Nog ’n polisiebeampte word doodgeskiet
# En rugby: Die Pumas verras die Bulle met ‘n oortuigende oorwinning in hul Curriebeker-kragmeting
# President Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Dialoog sal op 15 Augustus voortgaan, ondanks verdeeldheid in die Voorbereidende Taakspan. Ses Stigtings, insluitend die Thabo Mbeki- en FW de Klerk-stigting, wil hê dit moet tot Oktober uitgestel word. Ramaphosa sê die byeenkoms is noodsaaklik vir inklusiewe besprekings oor nasionale uitdagings. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die Groep van Vooraanstaande Persone het sy steun herbevestig en geloofwaardigheid en inklusiwiteit aangevoer:
# Die Gautengse polisie het al sy hulpbronne ontplooi om Jabulani Moyo op te spoor wat Vrydag twee speurders in Roodepoort doodgeskiet het. Moyo is glo gewapen met ‘n gesteelde polisievuurwapen. Die aanval kom enkele weke voor die SAPD-herdenkingsdag om gevalle beamptes te vereer. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê ‘n multidissiplinêre span, insluitend die Valke, ondersoek die voorval. Sy het die publiek versoek om Moyo nie te beskerm nie. Die polisie het ‘n beloming van 150-duisend-rand uitgeloof:
Die polisie in Mpumalanga soek intussen tien verdagtes wat verbind word met die moord op sersant Lawrence Mtshweni, wat gereageer het op ‘n sakeroof in Schoemansdal. Mtshweni is in die hospitaal oorlede.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het Roche Mogorosi as waarnemende hoof van die Departement van Gemeenskapsveiligheid aangestel ná die skorsing van voormalige hoof Nontsikelelo Sisulu en die hoof finansiële beampte, Mduduzi Malope. Die skorsings volg nadat ‘n forensiese oudit finansiële onreëlmatighede uitgewys het. Lesufi het bevestig dat Mogorosi, wat voorheen as hoofdirekteur by die Departement van Onderwys gedien het, onafgebroke leierskap sal verseker terwyl Gauteng werk om openbare vertroue te herstel en gemeenskapsveiligheid verbeter word.
# President Volodymir Zelensky sê Oekraïne sal nie hul grond vir besetters persent gee nie. Dit volg terwyl president Donald Trump en sy Russiese eweknie Vladimir Putin beplan om op 15 Augustus vredesamesprekings te hou. Zelensky het in ‘n video-boodskap aan die nasie gesê die twee leiers sal niks bereik nie. Hy sê ware vrede is nie moontlik sonder Oekraïne se betrokkenheid nie. Putin maak aanspraak op vier Oekraïnse streke – Luhansk, Donetsk, Zaporizhzhia en Cherson – sowel as die Swartsee-skiereiland van die Krim, wat hy in 2014 geannekseer het.
# En rugby: Die Pumas het gister ‘n oortuigende oorwinning van 41-7 oor die Blou Bulle behaal in hul Curriebeker-wedstryd op Loftus Versfeld. Die Pumas het die gashere met ses drieë teen een getroef en die Bulle se segetog gestuit. Die Pumas is nou ook boaan die punteleer. En in Durban het die Cheetahs die ongelukkige Haaie in ‘n harde stryd met 7-5 geklop – die Durbaniete se derde agtereenvolgende nederlaag. Die Cheetahs het ‘n drie en ‘n doelskop in die eerste helfte aangeteken, terwyl die Haaie slegs ‘n drie in die tweede helfte kon druk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….