Nuus 08:00
BULLETIN 12 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika moet erken word as ‘n ware kampvegter vir menseregte
# Die African Transformation Movement sê Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel is ‘n soeke na geregtigheid
# En, sewe mense is vasgetrek vir die ontvoering van ‘n Nigeriese sakeman in Fordsburg
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet erken word as ‘n ware kampvegter vir menseregte. Dit volg nadat Suid-Afrika gister sy saak teen Israel in die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland voorgelê het. Hy beskuldig Israel van volksmoord teen Palestyne wat in Gaza woon. Ramaphosa sê die land se regspan onder leiding van die minister van Justisie, Ronald Lamola, het goeie argumente gelewer en hy is trots daarop:
Die African Transformation Movement sê intussen Suid-Afrika se saak teen Israel dien as baken van hoop vir geregtigheid. Die verhoor in Den Haag hervat vandag om Israel se mondelinge betoë aan te hoor. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê Suid-Afrika het die situasie in Gaza uiteengesit met besonderhede oor massamoorde, verwoesting en streng beperkings op noodsaaklike hulpbronne:
# Sewe Nigeriese verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ʼn Nigeriese sakeman ontvoer het wat in Fordsburg, Johannesburg, sake doen. Die 48-jarige man is Woensdagaand ontvoer. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die polisie het die sakeman binne 24 uur ná sy ontvoering opgespoor en bevry. Sy sê hy is gisteraand in Ferndale, Randburg, gevind:
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se uitvoerende hoof, Ben Calveley, sê hulle het nie ʼn beleid wat verhoed dat enige iemand gekies word nie. Dit het die weg gebaan vir spelers soos Henry Arundell, Joe Marchant en Owen Farrell. Volgens Engeland en Ierland se huidige kiesbeleide mag net spelers wat klubrugby in die land speel, vir die toetsspan gekies word. Farrell word verbind met ʼn oordrag na Racing 92 in Frankryk, en kwalifiseer dus nie om vir Engeland gekies te word nie. Calveley sê ʼn speler se peil sal die enigste oorweging wees om gekies te word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-26-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-91-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die afslaers Sotheby’s en die Amerikaanse Raad van Modeontwerpers het ‘n vennootskap aangegaan vir ‘n eksklusiewe veiling, met ikoniese ontwerpe en skaars stukke geskenk deur modeontwerpersraadslede en versamelaars van Amerikaanse modes. Die Defining American Style-veiling sluit werk in deur 37 handelsmerke en CFDA-lede, wat deur die ontwerpers self geskenk is. Uitrustings wat deur mense soos Anna Wintour, Kim Kardashian en Jennifer Lopez gedra word, sal later vandeesmaand op die veiling wees. Alle opbrengste van die verkoping is ten bate van die CFDA-stigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….