Nuus 08:00
BULLETIN 9 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die bekommernisse van die stigtings oor die Nasionale Dialoog sal aangespreek word
# Die DA belowe optrede om die Komani-vroue teen geslagsgeweld te beskerm
# En die Johannesburgse mark wen ‘n top-toekenning
# President Cyril Ramaphosa sê die griewe wat deur onder meer die Albert Luthuli-, Mbeki- en Desmond Tutu-stigtings, geopper is, sal bespreek word. Die groepe wat hulle aan die Nasionale Dialoog onttrek het sê die datum van 15 Augustus ondermyn die dialoog se geloofwaardigheid. Ramaphosa sê die lokaal, befondsing en operasionele sentrum is gereed. Ongeveer eenduisend afgevaardigdes word verwag. Hy sê die onttrekkings is geringe terugslae en daar is geen verskille oor grondliggende kwessies nie:
# Ramaphosa sê toegang tot skoon water is ‘n basiese reg, nie ‘n luukse nie. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van die Rand Water Zuikerbosch-suiweringsaanleg in Emfuleni gewaarsku swak watergehalte veroorsaak gesondheidskrisisse en ondermyn openbare vertroue. Ramaphosa het die regering se verbintenis tot die lewer van hoëgehalte, veilige water aan elke huishouding herbevestig en verbeterde infrastruktuur, die gebruik van digitale era-tegnologie en die versagting van klimaatsuitdagings bepleit:
# Die DA het belowe om vroue en meisies in Komani, Oos-Kaap, te beskerm, waar geslagsgeweldsyfers die hoogte inskiet. Die leier van die DA se Enoch Mgijima-kiesafdeling, Chantel King, het op ‘n Vrouedag-betoging gesê die dorp het te kampe met ‘n noodtoestand, met 158 verkragtings wat binne ‘n jaar aangemeld is. Sy het dringende polisie-ondersteuning, gemeenskapsbewusmaking oor alkoholmisbruik en verbeterde straatbeligting gevra om die krisis aan te pak en blywende verandering te verseker:
# Die Johannesburgse Mark het die toekenning vir “Beste Spanwerkprojek” by die 2025 Afrika-konferensie en -toekennings van die Geoktrooieerde Instituut vir Aankope en Voorsiening gewen. Die tweedaagse geleentheid, met die tema Connect and Engage, het etiese verkryging, verskaffersbemagtiging en voorsieningskettingveerkragtigheid beklemtoon. Die toekenning erken die Johannesburgse Mark se uitnemendheid in kruisfunksionele samewerking en bestuur. Die mark se senior bestuurder, Boitumelo Lephadi, sê die oorwinning bevestig hul toewyding aan etiese, inklusiewe verkryging en strategiese spanwerk wat waarde met integriteit en deursigtigheid lewer.
# Frankryk se multi-miljard-euro mineraalwater maatskappye is in die kollig oor klimaatsverandering en toenemende kommer oor die sektor se omgewingsimpak. Wat ter sprake is is of van die wêreldberoemde handelsmerke, veral die ikoniese Perrier etiket, hom nog daarop kan beroep dat hy “natuurlike mineraalwater” voorsien. Dit volg na onthullings in die Franse media oor onwettige flitreerstelsels wat in algemene gebruik is, skynbaar weens kommer oor waterbesoedeling, na jare van droogte gekoppel aan klimaatverandering. Le Monde-koerant beskryf dit as ‘n kombinasie van nywerheidsbedrog en staat-samespanning.
# En krieket: Suid-Afrika se T20-kaptein, Aiden Markram, beskryf die jong spelers in die groep as plofbaar en vreesloos voor die reeks van drie wedstryde teen Australië wat môre in Darwin begin. Hy sê mens het nie veel bekommernisse op daardie ouderdom nie, wat weerspieël word in die manier waarop hulle oefen en speel. Die 19-jarige Lhuan-dré Pretorius, wat uitgeblink het in vanjaar se SA20, gaan na verwagting die beurt open saam met die ervare Ryan Rickelton. Die T20-reeks word gevolg deur drie eendagwedstryde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….