Goeie Nuus
BULLETIN 8 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se Grammy-bekroonde superster, Tyla, het twee benoemings ontvang vir die MTV Videomusiek-toekennings. Die 23-jarige sangeres se enkelsnit, Push 2 Start, is benoem in die kategorieë vir beste choreografie en beste Afrobeats. Die lied is meer as 100-miljoen keer op platforms gekyk en het wêreldwyd ‘n dans-gier aangewakker. Lady Gaga loop voor met 12 benoemings, Bruno Mars is op haar hakke met elf en Kendrick Lamar is derde met tien. Die toekenningsgeleentheid vind op 7 September in New York plaas.
# Die Universiteit van Pretoria het ʼn skenking van 18-miljoen-rand van Google ontvang om die Afrika-instituut van Datawetenskap en Kunsmatige Intelligensie te ondersteun. AfriDSAI is ʼn instituut by die universiteit wat navorsers, tegnoloë en gemeenskappe byeenbring om te besluit hoe data-wetenskap en kunsmatige intelligensie vir Afrika kan werk. Die vasteland dra tans net 0,9-persent by tot die wêreldwye KI-uitset. Die universiteit sê die befondsing is ʼn stap vorentoe in Afrika se poging om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer tot die wêreld se KI-navorsingslandskap.
# Enactus Qwaqwa van die Universiteit van die Vrystaat se grensverskuiwende projek, Root Rescue, gaan in September aan die Enactus-Wêreldbekergeleentheid in Thailand deelneem. Die projek het onlangs die Enactus 2025 Early-Stage National Exposition gewen. Die universiteit sê Root Rescue het ontstaan weens ʼn behoefte aan ʼn oplossing vir probleme in die landbou. Dit sluit in oorafhanklikheid van chemiese kunsmisstowwe, onvoldoende kragvoorsiening en ʼn tekort aan besproeiingswater. Die universiteit sê Root Rescue se sukses is ʼn bewys van die samewerkende gees en entrepreneurskap van die Enactus-span.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap sê die streeksronde van die Wêreld-robot-olimpiade het leerders so jonk as nege jaar gelok om hul robotikavaardighede op ʼn mededingende platform te bewys. Die kompetisie is ʼn geleentheid waar laerskoolleerders hul kodering- en robotikavaardighede kan vestig en progressief ontwikkel. Die voorsitter van die Wes-Kaapse olimpiade, Cedric Esterhuizen, sê dit het die Explorer Lite– en Explorer Prime-afdelings ingesluit wat gemik is op deelnemers jonger as 15:
# En ten slotte: Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het nuwe wetenskaplaboratoriums by vier skole in Atteridgeville, Pretoria, bekendgestel. Dis deel van ʼn openbare-privaat vennootskap waar maatskappye soos die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en Huawei van China toerusting en tegnologie geskenk het. Ramokgopa sê die doel van die projek is om die gehalte van wetenskap-onderrig in township-skole te verbeter deur noodsaaklike infrastruktuur beskikbaar te stel wat probleemoplossing, kritiese denke en vernuwing onder leerders bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….