Nuus 14:00
BULLETIN 8 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof beslis oudpresident Lungu se liggaam moet terugbesorg word aan Zambië vir ‘n staatsbegrafnis
# Mbeki en ander onttrek aan die voorbereidingspan vir die nasionale dialoog
# En bokke help weghol-veldbrande in Spanje verhoed
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die oorskot van die gewese Zambiese president, Edgar Lungu, moet gerepatrieer word vir ‘n staatsbegrafnis. Dit beëindig ‘n regsgeding tussen die Zambiese regering en sy familie, wat hom in Johannesburg wou begrawe. Lungu is twee maande gelede dood toe hy behandeling in Suid-Afrika ontvang het. Die adjunk-regterpresident, Aubrey Ledwaba, handhaaf Zambië se reg om Lungu te vereer en sê openbare belang weeg swaarder as persoonlike wense:
# Oud-president Thabo Mbeki se stigting en ander het hulle onttrek aan die voorbereidingspan vir die nasionale dialoog. Hulle het uitstel tot na 15 Oktober versoek, met verwysing na haastige beplanning, ‘n gebrek aan deursigtigheid rakende befondsing en ‘n verskuiwing van ‘n burgergeleide benadering tot regeringsbeheer. Die dialoog word beplan vir volgende Vrydag. Die groepe sê ondanks ‘n vergadering met president Cyril Ramaphosa is daar nie inklusiwiteit in die huidige formaat nie. Vrae het dus ontstaan oor hoe gereed die dialoog en die bestuur daarvan is.
# Die GOOD-party sê die gepubliseerde regulasies vir die inwerkingstelling van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette volg op ‘n skikkingsooreenkoms tussen die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en Solidariteit in November. Sekretaris-generaal Brett Herron sê dit het duidelik geword uit die party se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Hy sê hulle wou toegang kry tot die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad se prosedures nadat Solidariteit verlede jaar ‘n geskil verklaar het oor die wet:
# Rugby: Westelike Provinsie en die Haaie, wat verlede week onderskeidelik teen die Bulle en die Leeus verloor het, hoop om die bordjies te verhang in die derde ronde van die Curriebeker-kompetisie. WP reis vanmiddag na Kimberley om teen Griekwas te speel en die Haaie verwelkom môre die Cheetahs in Durban. Die Bulle, wat albei hulle eerste wedstryde gewen het, speel môre in Pretoria teen die Pumas en die Boland Kavaliers moet ‘n selfversekerde Leeuspan Sondag in Wellington in die oë kyk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-544-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-389-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-56-sent per vat.
# En laastens, bokkuddes speel ‘n rol in die voorkoming van veldbrande in Spanje. Verswengende hitte veroorsaak elke somer erge veldbrande in die suide van Europa en verwoes groot gedeeltes plantegroei. Die aantal brande in Katalonië het verlede jaar afgeneem, al was dit die derde jaar van die ergste droogte in ‘n eeu. Die streeksregering skryf dit toe aan beter brandvoorkomingsmaatreëls, terwyl bokke ook bydra. Die diere, bekend vir hul gulsigheid, voed op doringplante soos kaktusse of brandnetels, wat ideaal is om bosse uit te roei en natuurlike brandpaaie te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….