Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus van die sporttoekennings: Die Olimpiese swemkampioen Tatjana Smith, die naelloper Akani Simbine en die naelloop- en verspring-ster Mpumelelo Mhlongo ding mee om aangewys te word as Suid-Afrika se sportster van die jaar vir 2024. Atlete is in 16 afdelings benoem vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings wat die 24ste aangekondig word. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het Smith ook in die kategorie van sportvrou van die jaar benoem saam met die kaptein van die Protea-vroue-krieketspan, Laura Wolvaardt. Die Springbok-rugbyster Pieter-Steph du Toit is benoem as sportman van die jaar.
# Springbokafrigter Rassie Erasmus is van plan om spandiepte te bou en jong talent vir die toekoms voor te berei. Die Bokke het hul voorbereidingskamp van twee weke in Johannesburg afgesluit. Drie Junior Springbokke wat Wêreldrugby se Onder-20 Kampioenskap gewen het, het deelgeneem. Erasmus sê Bathobele Hlekani, Cheswill Jooste en Haashim Pead is blootgestel aan wat nodig is om op die hoogste vlak van die sport mee te ding. Die Bokke kom weer Sondag bymekaar wanneer hulle op die Rugbykampioenskap sal begin fokus.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada glo hulle moet nou die opwinding van hulle oorwinning oor Australië in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap agterlaat en daarop fokus om die land in witbalreekse te pak. Die eerste van drie T20’s word Sondag in Darwin gespeel en na die reeks volg drie eendagwedstryde. Rabada sien daarna uit om die tweestryd tussen die twee lande te hervat. Hy sê hulle beweeg nou in die rigting van die T20-Wêreldbekertoernooi en sal ‘n ander benadering hê.
# Gemengde gevegkuns: Elbert “Pikachu” Steyn van Pretoria is gereed om môre geskiedenis te maak wanneer die Professional Fighters-liga Afrika in Johannesburg plaasvind. Die veergewig-vegter, wat ‘n onoorwonne 3-0 rekord handhaaf, veg teen Abderrahman Errachidy van Marokko in Carnival City se Big Top-arena. Die geleentheid is die Professional Fighters se tweede toernooi nadat die Kaapstadse vertoning uitverkoop het. Steyn, die enigste Suid-Afrikaner in die toernooi, hoop om die halfeindronde voor ‘n juigende tuisskare te bereik.
# En tennis: Die 22-jarige Amerikaner Ben Shelton en die 18-jarige Kanadese promotorskeuse, Victoria Mboko, is vanjaar se kampioene van die Kanadese Ope. Shelton was ‘n stel agter, maar het ingehaal en die Rus, Karen Khachanov, in Toronto verslaan om sy eerste ATP Meesters-een-duisend-titel te buit. In die vroueafdeling in Montreal het Mboko die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka van Japan, geklop om haar eerste WTA-toer-titel op te raap. Mboko het met hierdie oorwinning met 51 plekke opgeskuif na 34ste op die wêreldranglys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….