Nuus 12:00
BULLETIN 8 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Activists and Citizens Forum vra die Valke om die geskorste hoof en die woordvoerder van die Ontwikkelingstrust in hegtenis te neem
# Die VF Plus dien ‘n klagte in by Menseregtekommissie teen die Open Chats-potgooi
# En rugby: Rassie Erasmus onderneem om jong spelers vir die toekoms voor te berei
# Activists and Citizens Forum het die Valke versoek om die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstust, Tebogo Malaka, en woordvoerder Phasha Makgolane in hegtenis te neem. Daily Maverick het beeldmateriaal gepubliseer waar hulle die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh 60-duisend-rand kontant aanbied om ‘n korrupsie-ondersoek te staak. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n strafregtelike klagte teen hulle ingedien. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê daar is voldoende bewys om hulle dadelik aan te keer:
# Die Vryheidsfront Plus het amptelik ʼn klagte by die Menseregtekommissie ingedien teen die aanbieders van die Open Chats-potgooi. Die uitsending het soos ʼn veldbrand op TikTok versprei nadat die aanbieders in ‘n episode aanstootlike en rassistiese opmerkings oor bruin mense gemaak het. Grant Marais van die VF Plus sê dis onaanvaarbaar dat mense op ʼn openbare platform sulke beledigende stereotipes verkondig om die bruin gemeenskap se menswaardigheid aan te tas en haat aan te hits:
# ‘n Plaaslike hofsaak kan voortgaan teen ‘n man wat in Brittanje gesoek word vir 76 gevalle van die onsedelike aanranding van jong seuns. Die Streekhof in Wynberg, Kaapstad, het die gewese onderwyser aan Rondebosch Boys Preparatory, Iain Wares, se aansoek geweier om die aanklagte teen hom terug te trek. Landdros Vanessa Miki het bevind dat die staat genoeg bewyse het. Luke Lamprecht van Women and Men Against Child Abuse sê die uitspraak is ‘n belangrike stap na geregtigheid:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus is van plan om spandiepte te bou en jong talent vir die toekoms voor te berei. Die Bokke het hul voorbereidingskamp van twee weke in Johannesburg afgesluit. Drie Junior Springbokke wat Wêreldrugby se Onder-20 Kampioenskap gewen het, het deelgeneem. Erasmus sê Bathobele Hlekani, Cheswill Jooste en Haashim Pead is blootgestel aan wat nodig is om op die hoogste vlak van die sport mee te ding. Die Bokke kom weer Sondag bymekaar wanneer hulle op die Rugbykampioenskap sal begin fokus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-844-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-399-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n ernstige waarskuwing vir die Wes-Kaap- en die Namakwa-streek uitgereik. Vlak-2 waarskuwings geld van middernag môre vir skadelike golwe en wind langs die kus. Stormsterk wind en deinings van tot ses meter hoog word tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai verwag en reën word ook voorspel. Die Weerdiens beveel aan dat klein bote en persoonlike watervaartuie soos kajakke liewer aan wal moet bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….