Nuus 11:00
BULLETIN 8 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sake-organisasies vra Eskom om sy regstappe oor Nersa se handelslisensies te laat vaar
# Die Vryemarkstigting sê die Onteieningswet is nie bevorderlik vir grondhervorming nie
# En rugby: Rassie Erasmus is daartoe verbind om jong spelers vir die toekoms voor te berei
# Business Leadership South Africa en Business Unity South Africa moedig Eskom aan om sy regsgeding te onttrek oor elektrisiteit- en handelslisensies wat die energiereguleerder, Nersa, uitgereik het. Die twee sakeliggame sê die kragvoorsiener ondermyn energiehervormings, vertraag privaat beleggings en verleng beurtkrag. Busisiwe Mavuso van BLSA moedig die regering aan om in te gryp en vra Eskom om die uitbreiding van die nasionale kragnetwerk en die bekendstelling van elektrisiteits-markte te ondersteun:
# Die Vryemarkstigting vra die Parlement om die Onteieningswet te onttrek en ʼn regverdige en billike grondhervormingsprogram in te stel. Die wet bied ʼn algemene raamwerk vir prosesse en prosedures waarvolgens staatsorgane eiendom kan onteien. Die stigting sê die wetgewing is gevaarlik en ongrondwetlik en kan nie tot enige grondhervorming lei nie. Hy sê die belangrikste korttermynaanbeveling is dat die huidige wet vervang moet word met ʼn Wet op Onteieningsbeheer wat onteienings-wetgewing in Suid-Afrika normaliseer.
# Die GOOD-party sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, wil regulasies gebruik om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette en die nou gewysigde Suid-Afrikaanse Skolewet te ondermyn. Die minister het die eerste twee regulasies ingevolge die BELA-wet vir openbare kommentaar gepubliseer. Dit hou verband met basiese kwessies soos skooltoelating. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die wet se publisering, byna agt maande nadat dit van krag geword het, wek ernstige kommer:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê hy ontmoet vandag die leiers van Armenië en Azerbeidjan in die Withuis vir wat hy ʼn geskiedkundige vredesberaad noem. Daar word verwag dat hulle ʼn vredesooreenkoms sal onderteken om ʼn einde te bring aan jare lange konflik tussen die twee Suid-Kaukasiese nasies. Hulle het twee keer oorlog gemaak oor die Karabakh-streek wat Azerbeidjan in 2023 weer by Armeense magte afgeneem het. Trump sê Amerika sal ook bilaterale ooreenkomste met albei lande onderteken om ekonomiese geleenthede te ondersoek.
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus is van plan om spandiepte te bou en jong talent vir die toekoms voor te berei. Die Bokke het hul voorbereidingskamp van twee weke in Johannesburg afgesluit. Drie Junior Springbokke wat Wêreldrugby se Onder-20 Kampioenskap gewen het, het deelgeneem. Erasmus sê Bathobele Hlekani, Cheswill Jooste en Haashim Pead is blootgestel aan wat nodig is om op die hoogste vlak van die sport mee te ding. Die Bokke kom weer Sondag bymekaar wanneer hulle op die Rugbykampioenskap sal begin fokus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-609-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-396-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….