Nuus 08:00
BULLETIN 8 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Presidente Ramaphosa en Putin bespreek die Rusland-Oekraïne-oorlog en bilaterale kwessies
# Die VF Plus sê die ANC se beleid is die oorsaak van Suid-Afrika se diplomatieke en handelskrisis
# En sportnuus: Smith, Wolvaardt en Du Toit is onder die benoemings vir SA Sporttoekennings
# President Cyril Ramaphosa het per telefoon met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, gepraat oor die oorlog in Oekraïne en sake van gemeenskaplike, bilaterale belang. Sedert Rusland se volskaalse inval in Oekraïne het Westerse nasies verreikende sanksies teen Moskou ingestel in ‘n poging om sy oorlogspoging te stuit. Suid-Afrika het egter ʼn beleid van nie-belyning met beide lande. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die bespreking het gevolg na Putin se versoek om Ramaphosa in te lig oor die vredesproses met Oekraïne:
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika se diplomatieke en handelskrisis kan regstreeks toegeskryf word aan die ANC-regering se voortgesette sosialistiese beleid en mislukte buitelandse beleid. Dit volg nadat Amerika tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte gehef het. Jaco Mulder van die VF Plus sê die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, en president Cyril Ramaphosa se onlangse verklarings dat alternatiewe markte deur die Afrika-vryhandelsooreenkoms en met die Ooste ondersoek sal word, bied min troos:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die polisie gevra om alles in hul vermoë te doen om die moordenaars van die Oos-Kaapse aanklaer, Tracy Brown, vas te trek. Die minister het gister die vermoorde aanklaer se gedenkdiens bygewoon. Brown, wat by die New Brighton-landdroshof in Gqeberha gewerk het, is verlede Donderdag vermoor. Kubayi sê sonder beskerming sal aanklaers nie hul pligte sonder vrees of guns kan doen of hul onafhanklikheid kan uitoefen nie.
# Sportnuus: Die Olimpiese swemkampioen Tatjana Smith, die naelloper Akani Simbine en die naelloop- en verspring-ster Mpumelelo Mhlongo ding mee om aangewys te word as Suid-Afrika se sportster van die jaar vir 2024. Atlete is in 16 afdelings benoem vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings wat die 24ste aangekondig word. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het Smith ook in die kategorie van sportvrou van die jaar benoem saam met die kaptein van die Protea-vroue-krieketspan, Laura Wolvaardt. Die Springbok-rugbyster Pieter-Steph du Toit is benoem as sportman van die jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-965-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se Grammy-bekroonde superster, Tyla, het twee benoemings ontvang vir die MTV Video Music-toekennings. Die 23-jarige sanger se enkelsnit, Push 2 Start, is benoem in die kategorieë vir beste choreografie en beste Afrobeats. Die lied is meer as 100-miljoen keer op platforms gekyk en het wêreldwyd ʼn dans-tendens aangewakker. Lady Gaga loop voor met 12 benoemings, Bruno Mars is op haar hakke met elf en Kendrick Lamar is derde met tien. Die toekenningsgeleentheid vind op 7 September in New York plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….