Nuus 14:00
BULLETIN 7 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en Trump verbind hulle tot voortgesette bilaterale handelsooreenkomste
# Forum for South Africa sê die land verdien ’n wettige en veilige mynbedryf
# En rugby: Die flank van die Springbok-vroue, Lusanda Dumke, gaan ‘n blaaskans neem om gesondheidsredes
# President Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het hulle verbind tot voortgesette bilaterale handelsooreenkomste. Dit volg op ‘n telefoongesprek waarin die twee leiers belangrike ekonomiese sake bespreek het, insluitend die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent op sekere Suid-Afrikaanse uitvoere. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die regering poog om Suid-Afrika se handelsbelange te beskerm namate wêreldwye ekonomiese druk toeneem:
Trump se ingrypende nuwe tariewe op meer as 90 lande het vandag in werking getree. Hy het op sy Truth Social-platform gesê miljarde dollar vloei nou na Amerika. Trump het vroeër ‘n tarief van 50-persent op Indië gehef wat op 27 Augustus in werking sal tree tensy die land ophou om Russiese olie te koop. Hy dreig ook met ‘n 100-persent-tarief op buitelandse rekenaarskyfies. Apple het ‘n nuwe Amerikaanse belegging van 1,7-duisend-miljard-rand aangekondig na druk deur die Withuis om meer produksie na Amerika te skuif.
# Forum for South Africa sê die land verdien ‘n mynbedryf wat wettig, veilig en voordelig vir sy burgers is. Minstens 550 vermeende onwettige mynwerkers, waaronder buitelanders en minderjariges, is die afgelope paar dae by die Sheba-goudmyn in Barberton, Mpumalanga, aangekeer. Die meeste verdagtes is van Mosambiek, Swaziland, Lesotho en Zimbabwe. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê onwettige mynbedrywighede is nie net ʼn sekerheidsbedreiging nie, maar ook ʼn humanitêre krisis:
# Rugby: Die flank van die Springbok-vroue, Lusanda Dumke, gaan ‘n blaaskans neem om gesondheidsredes. Die 28-jarige het 33 toetse gespeel en die span drie keer aangevoer. Sy het die Bulle se Daisies ook hierdie seisoen na hulle derde agtereenvolgende Vroue Premierafdeling-titel gelei. Die Bok-vroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê Dumke se afwesigheid sal wel ‘n uitwerking op die span hê, maar die spelers wat aan die Wêreldbekertoernooi gaan deelneem, sal besef dis ‘n voorreg om fiks en sterk te wees en vir jou land te speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-631-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, aansoeke het geopen vir saamgestelde programme vir die 52ste Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap vir volgende jaar. Die programme bring van die land se opwindendste bekroonde talent byeen met globale werke en vernuwende werk in verskillende genres. Vanjaar se saamgestelde programme sluit Cape Ballet Africa se drieledige SALT, UK’s Action Hero se teaterstuk The Talent en Rehane Abrahams se nuwe werk The Fugue of Tjebolang in. Kunstenaars, vervaardigers en ander word versoek om teen 3 Oktober aansoek te doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….