Nuus 06:00
BULLETIN 7 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC NUK wil die regering van nasionale eenheid uitbrei
# Die families van apartheidsmisdaadslagoffers kritiseer president Ramaphosa se hofaansoek
# En die Tshwane Nooddienste vra mense om versigtig te wees ná ‘n ernstige donderstormwaarskuwing
# Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het besluit om die regering van nasionale eenheid te herset ten einde deelname te verbreed en sy doeltreffendheid te versterk. Die komitee het party-amptenare aangesê om weer met die RNE-vennote in gesprek te tree om die volle implementering van die verklaring van voorneme te verseker. By ‘n inligtingsessie na afloop van die NUK-vergadering in Germiston, Ekurhuleni, het sekretaris-generaal Fikile Mbalula gewaarsku teen enige pogings om die RNE vir partypolitieke belange te misbruik:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, gaan na verwagting vandag die media by die Kaapstad Sentraal-polisiestasie toespreek oor aantygings van omkopery teen die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Daily Maverick beweer sy het probeer om die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh om te koop om negatiewe dekking te voorkom. Malaka is geskors na ‘n finale forensiese verslag van PricewaterhouseCoopers oor ‘n suurstofaanleg-tender. Macpherson sê dis deel van ‘n breër, moontlik betaalde veldtog om sy hervormingspogings by die trust te ondermyn.
# Die families en oorlewendes van apartheidsmisdade het president Cyril Ramaphosa se aansoek om ‘n grondwetlike skadevergoedingsaak uit te stel, gekritiseer. Die families eis 168-miljoen-rand vir wat hulle die staat se growwe versuim noem om politieke misdade, wat die Waarheids- en Versoeningskommissie uitgewys het, te ondersoek en te vervolg. Ramaphosa wil hê die Hooggeregshof in Pretoria moet die skadevergoedingsaak staak hangende ‘n ondersoek deur ‘n kommissie van ondersoek. Zaid Kimmie van die Foundation for Human Rights sê die families soek geregtigheid:
# Nooddienste in die Stad Tshwane doen ‘n beroep op inwoners om waaksaam te bly nádat ‘n Vlak 3 Geel Waarskuwing vir ernstige donderstorms vir vandag uitgereik is. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen swaar reën, hael, skadelike wind en weerlig in Gauteng, insluitend Tshwane. Risiko’s sluit in gelokaliseerde oorstromings, verkeersontwrigtings en skade aan infrastruktuur. Inwoners word aangeraai om binnenshuis te bly, laagliggende strate te vermy en brandveiligheid tydens die koue weer te beoefen. Die stad se woordvoerder Lindsay Mnguni sê die stad sal op ‘n hoë gereedheidsgrondslag bly ten tye van die storm:
# Die goewerneur van Texas, Greg Abbott, doen regstappe om talle Demokrate af te dank nadat hulle uit die staat gevlug het om planne te verhoed om verkiesingsgrense te verskuif. Hy het ‘n aansoek by die Hoërhof ingedien en beskryf die optrede as ’n komplot om die staatsregering te kaap. Abbott sê die vertrek van meer as 50 Demokrate is gelykstaande aan verlating. Die hersiene Kongreskaart sal vyf bykomende setels in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers skep waar die Republikeine ‘n geringe meerderheid het. Dit sal waarskynlik die Republikeine begunstig.
# Krieket: Baie spelers het hulle posisies op die wêreldranglyste verbeter na die briljante toetsreeks tussen Engeland en Indië. Indië se aanvangskolwer, Yashasvi Jaiswal, is nou vyfde onder die toetskolwers nadat hy 411 lopies aangeteken het, insluitend twee honderdtalle. Mohammed Siraj het 12 plekke verbeter na 15de op die toetsbouler-ranglys en nog ‘n Indiese snelbouler, Prasidh Krishna, 25 plekke tot 59ste. Die Engelse bouler Gus Atkinson is die eerste keer in die top-10 en Josh Tongue het met 14 posisies verbeter tot 46ste. Die reeks het 2-elk geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-668-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….