Nuus 17:00
BULLETIN 6 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê Suid-Afrika sal nie sy soewereiniteit opoffer oor Amerikaanse tariewe nie
# Solidariteit stel ‘n vyfpunt-plan bekend om die nagevolge van die tariewe aan te pak
# En Chinese e-kleinhandelverkope in Suid-Afrika staan op 7,3-miljard-rand te midde van kommer oor werksverliese
# Die ANC sê hy sal voortgaan om Suid-Afrika se transformasie-agenda te verdedig ondanks toenemende wêreldwye druk, insluitend Amerikaanse tariewe van 30-persent. Die party hou vol sy transformasiebeleid, insluitend swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming, is noodsaaklik om vorige ongeregtighede reg te stel. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het op ‘n nuuskonferensie oor die besluite op die nasionale uitvoerende komiteevergadering gesê die regering sal nie sy soewereiniteit vir ekonomiese gunste verruil nie:
Die vakbond Solidariteit het intussen ‘n vyfpunt-plan bekendgestel om die uitwerking van die tariewe te versag. Die plan sluit in samesprekings tussen die administrasies van presidente Cyril Ramaphosa en Donald Trump, ondersteuning vir werkers en nywerhede wat geraak word en pogings om handelsbande tussen die twee lande te versterk. Jaco Kleynhans van die vakbond waarsku dat die tariewe kan lei tot werkverliese en die sluiting van sake-ondernemings, veral in die motor- en die landbousektor.
# ‘n Verslag deur die Localisation Support Fund toon Chinese aanlyn kleinhandelaars het verlede jaar 7,3-miljard-rand in Suid-Afrikaanse verkope bereik. Uitvoerende hoof, Irshaad Kathrada, het aan SABC News gesê kitsmode-reuse soos Shein en Temu verplaas na raming agt-duisend plaaslike werksgeleenthede en waarsku dit kan tot 35-duisend styg. Hy bepleit dringende regulering om die uitwerking van buitelandse kleinhandelaars te beperk:
Nuus uit die Midde-Ooste:
# Twintig mense is dood en talle beseer toe vier vragmotors in Gaza omgeslaan het. Die BBC haal die Hamas-bestuurde Burgerlike Verdedigingsagentskap aan wat sê mense het op die voertuie geklouter, wat veroorsaak het dat die bestuurders beheer verloor en die voertuie op die vernielde, gevaarlike paaie omgeslaan het. Die agentskap sê die voertuie was in ‘n groep van 26 vragmotors wat hulp na Gaza vervoer as deel van Israel se plan om voedsel deur die privaat sektor in die Gazastrook toe te laat. Israel se Weermag ondersoek die voorval.
# Krieket: Australië oorweeg dit om privaat beleggings in die Big Bash-liga toe te laat om dit die wêreld se tweede grootste T20-liga te maak na die Indiese Premierliga. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, sê egter dit sal nie voortgaan as dit ten koste van die tradisionele Nuwejaarstoets in Sydney is nie. Die liggaam het die ondersoek na die liga se huidige model en toekomstige strukture aangevra, wat alternatiewe maniere van belegging en eienaarskap aanbeveel het. 2025/26 se kompetisie vind tussen 14 Desember en 25 Januarie plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-911-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-369-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….