Nuus 16:00
BULLETIN 6 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit stel ‘n vyfpunt-plan bekend om die nagevolge van die Amerikaanse handelstariewe aan te pak
# Putin ontmoet Trump se gesant voor die verstryking van die spertyd vir ‘n skietstaking met Oekraïne
# En atletiek: Amerika versterk visumreëls vir transgender-vroue
# Die vakbond Solidariteit het ‘n vyfpunt-plan bekendgestel om die uitwerking van Amerika se invoertariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse goedere te versag. Die plan sluit in samesprekings tussen die administrasies van presidente Cyril Ramaphosa en Donald Trump, ondersteuning vir werkers en nywerhede wat geraak word en pogings om handelsbande tussen die twee lande te versterk. Jaco Kleynhans van die vakbond waarsku dat die tariewe kan lei tot werkverliese en die sluiting van sake-ondernemings, veral in die motor- en die landbousektor.
Merlog Foods moedig intussen die Grensbestuursowerheid aan om aanlyn bevestiging van veeartsenykundige gesondheidsertifikate te aanvaar om vertragings met die invoer van pluimvee te verlig. Bestuurder Georg Southey sê verouderde papier-bevestiging veroorsaak weeklange vertragings wat proteïnpryse opjaag en voedselsekerheid bedreig. Hy sê die owerheid en die Departement van Landbou het albei toegang tot Brasilië se veilige aanlyn stelsel, maar papierdokumente bly verpligtend. Southey sê digitale bevestiging sal ondersoeke bespoedig en bekostigbare proteïn-voorsieningskettings verseker:
# Die Department van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hy het sterk beswaar aangeteken teen die omstandighede rondom die onlangse besoek van oudpresident en leier van die MK-party, Jacob Zuma, aan Marokko. ‘n Woordvoerder van die ministerie, Chrispin Phiri, sê Zuma het verlede maand in Rabat vergader met die minister van Buitelandse Sake, Afrika-samewerking en Marokkaanse Uitgewekenes, Nasser Bourita. Hy sê die departement teken ten sterkste beswaar aan oor die gebruik van Suid-Afrikaanse nasionale simbole:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het die Amerikaanse gesant, Steve Witkoff, in Moskou ontmoet, twee dae voor die verstryking van president Trump se sperdatum aan Moskou om sy oorlog in Oekraïne te staak of nuwe sanksies te verwag. Trump het Rusland tot Vrydag kans gegee om vordering te maak met die vredesproses. Drie rondes vredesgesprekke in Istanbul het misluk en geen vordering is gemaak met ‘n wapenstilstand nie. Rusland het hommeltuig- en missielaanvalle teen sy pro-Westerse buurland tot ‘n rekordhoogtepunt uitgebrei en sy vordering op grondvlak versnel.
# Atletiek: Amerika het strenger visumregulasies ingestel wat transgender vroue-atlete verbied om die land binne te kom, onder die vaandel van regverdigheid in vroue-sport. Die uitvoerende bevel het wye kritiek van menseregtegroepe uitgelok wat dit as diskriminasie beskryf. Ondersteuners voer aan dat die stap die integriteit van vroue-kompetisies beskerm. Die nuwe beleid dui ‘n noemenswaardige verskuiwing in Amerika se immigrasie- en sportwette aan, wat wêreldwye debat ontketen oor insluiting, regverdigheid en geslagsidentiteit in internasionale atletiek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-116-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….