Nuus 13:00
BULLETIN 6 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Verdediging ontken dat minister Motshekga weier om voor die Parlement te verskyn
# Malema sê ‘n parlementêre komitee moet gevangenes met inligting oor misdaadsindikate ondervra
# En Gauteng se Gesondheidsdepartement is daartoe verbind om die verdere verspreiding van masels te voorkom
# Die Ministerie van Verdediging en Militêre Veterane verwerp bewerings dat minister Angie Motshekga weier om voor die Parlement te verskyn. Die DA sê die minister word beskerm teen aanspreeklikheid vir die rampspoedige ontplooiing van Weermaglede in die Demokratiese Republiek die Kongo en 813-miljoen-rand waarvan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie kan rekenskap gee nie. Die ministerie se woordvoerder, Onicca Kwakwa, sê die bewerings weerspieël nie die minister se rekord van aanspreeklikheid en deursigtigheid nie:
Die leier van die EFF, Julius Malema, vra intussen die Parlement se nuwe ad hoc-komitee wat korrupsie en politieke inmenging in die Polisiediens ondersoek, om gevangenes te ondervra wat kan lig werp op misdaadsindikate. Die komitee het gister sy eerste vergadering gehou waar Soviet Lekganyane van die ANC tot voorsitter verkies is. Malema sê die opdrag moet voorsiening maak dat gevangenes met tersaaklike inligting voor die komitee verskyn:
# Gauteng se LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê haar departement is steeds verbind tot die voorkoming van die verdere verspreiding van masels deur billike toegang tot roetine- en veldtoggebaseerde inentingsdienste. Die massa-inentingsveldtog teen masels en Duitse masels teiken meer as vier-miljoen kinders in Gauteng en duur tot 12 September. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die entstof is veilig, gratis en doeltreffend om kinders teen ernstige siektes te beskerm:
# Rugby: Ierse spanne moet steeds die wettige duikhoogte onder die borsbeen hou in die 2025/26-seisoen nadat voorlopige data ‘n verlaging in algehele beseringskoerse getoon het tydens die vorige twee seisoene. Die Ierse Rugby-voetbalunie het twee jaar gelede by Wêreldrugby se proefneming aangesluit om die duikhoogte te verlaag met die doel om veral kontak met die kop en die gevaar van harsingskudding te verminder. Engeland en Skotland se rugby-unies het soortgelyke reëls ingestel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-131-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-29-sent per vat.
# En laastens, die DA in die KwaZulu-Natalse wetgewer verwelkom die verkiesing van sy lid, Imran Keeka, as eerste bykomende lid van die Statebond Parlementêre Vereniging se plaaslike tak. Die vereniging ondersteun en bevorder demokrasie, goeie regering en menseregte in Statebondslande deur samewerking en die deel van kennis onder sy parlementslede en wetgewers. Die DA sê Keeka se reuse-kennis en uitnemende diens in talle portefeuljekomitees strek sy nuwe amp tot voordeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….