Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die kaptein van die Springbok-manspan, Siya Kolisi, vra dat Suid-Afrikaners die nasionale vroue-span met oorgawe moet ondersteun gedurende die Wêreldbekertoernooi wat die 22ste in Engeland begin. Hulle speel in groep D teen Brasilië, Italië en Frankryk. Die Bok-vroue het in 2021 al hulle wedstryde in die toernooi verloor, maar Kolisi glo hulle kan vanjaar die kwarteindronde haal. Hy het die span geloof vir hulle verbetering die laaste paar maande. Die Bokke se hulp-afrigter, Mzwandile Stick, sê die vroue geniet meer blootstelling vandat hulle voorwedstryde vir manswedstryde speel.
Die Kaapse Forum vra intussen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie om dringend die ondersoek na beweerde skeidsregter-omkopery in die Boland-rugbyunie oor te neem. Die groep verklaar Boland Rugby is reeds ‘n geruime tyd bewus van die bewerings, maar het eers opgetree nadat ‘n verklikker na vore gekom het. Heindrich Wyngaard van die forum waarsku die skandaal kan rugby se aansien benadeel en skeidsregters se veiligheid in gevaar stel voor die Top 12-toernooi in die Wes-Kaap:
# Kriekt: Die omvang van Chris Woakes se besering behoort binnekort duidelik te wees na sy heldhaftige kolfbeurt in die vyfde toets teen Indië in Londen. Hy het sy skouer beseer op die eerste dag op die Oval, maar moes op die laaste dag opstap om die wedstryd te probeer wen. Sy kolfmaat, Gus Atkinson, het hom beskerm teen die boulers, maar hulle het met ses lopies verloor. Hoofafrigter Brendon McCullum beskryf Woakes se bydrae as baie dapper, al het die nederlaag beteken dat die reeks onbeslis geëindig het.
# Tennis: Die Amerikaner Taylor Fritz het ‘n halfeindstryd teen sy landgenoot, Ben Shelton, bespreek op die Kanadese Ope in Toronto. Die tweede-gekeurde het Andrey Rublev van Rusland verslaan terwyl Shelton die Australiër Alex de Minaur geklop het. Die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland en die Rus Karen Khachanov speel in die ander halfeindstryd. In die vroueafdeling in Montreal het Naomi Osaka van Japan maklik afgereken met Elina Svitolina van Oekraïne en speel in die halfeindronde teen die Deen Clara Tauson, wat die Amerikaner Madison Keys verslaan het.
# En ten slotte: President Donald Trump van Amerika het ʼn uitvoerende bevel onderteken om ʼn taakspan in die Withuis saam te stel vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles. Volgens die bevel moet die taakspan sekerheid en beplanning vir die Spele koördineer, en die visumproses en sertifisering vir atlete, afrigters, die media en ander besoekers vereenvoudig. Trump, wat as die taakspan se voorsitter sal optree, sê dit sal die beste Spele wees wat die wêreld nóg gesien het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….