Nuus 13:00
BULLETIN 5 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die petrolprys daal om middernag, maar die dieselprys verhoog weer
# Godsdiensleiers maak beswaar teen die Wetsontwerp op Huwelike
# En ‘n rekord-getal lande gaan môre die 80ste herdenking van die atoombom-ontploffing op Hiroshima bywoon
# Die prys van 93- en 95-oktaan petrol daal om middernag met 28-sent per liter. Die prys het verlede maand met 52-sent gestyg. Die slegte nuus is egter dat die dieselprys met tot 65-sent per liter styg. Dit volg op die verhoging van 82-sent per liter verlede maand. Die prys van lampolie verhoog met 43-sent per liter. Vloeibare gas se prys daal met 78-sent per kilogram in die Wes-Kaap en 69-sent in die res van die land.
# Die DA het die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging beskuldig dat hulle die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, teen verantwoordbaarheid beskerm. Nicholas Gotsell van die party sê die minister was nog nie by die Parlement om rekenskap te gee van die ontplooiingsramp in die Demokratiese Republiek die Kongo nie, en die 813-miljoen-rand waarvan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie rekenskap kan gee nie. Gotsell sê die blatante gebrek aan oorsig ondermyn deursigtigheid en aanspreeklikheid:
# Godsdiensleiers en die Christelike politieke party, Hope4SA, het tydens openbare verhore in Kimberley in die Noord-Kaap sterk beswaar gemaak teen die voorgestelde Wetsontwerp op Huwelike. Die wetsontwerp se doel is om alle huwelike, insluitend selfdegeslag-huwelike, onder een wet te verenig. Zeilede Kgomongoe van die ACDP sê die wetsontwerp ondermyn tradisionele waardes en weerspieël nie die oortuigings van baie Suid-Afrikaners nie. André Strauss van Hope4SA sê die wetsontwerp bedreig godsdiensvryheid, en waarsku staatsamptenare kan hul werk verloor en eienaars van trou-plekke kan hofsake verwag.
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Scott Robertson, sê ‘n vlaag beserings bied geleenthede vir spelers wat ‘n kans verdien om vir die nasionale span te speel. Hy het een nuweling, die flank Simon Parker, aangewys in sy groep van 36 vir die Rugbykampioenskap wat dié maand begin wanneer die All Blacks agtereenvolgende toetse in Argentinië speel. Tevita Mafileo, Kyle Preston en Leroy Carter is onder sewe spelers op die beserings-bystandslys. Robertson sê Parker verdien die kans:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-455-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, ‘n rekord aantal lande en streke gaan môre die 80ste herdenking van die atoombomontploffing in Hiroshima bywoon, insluitend Rusland se bondgenoot, Belarus, en die nuwelinge Taiwan en verteenwoordigers van Palestina. Amerika het op 6 Augustus 1945 ‘n atoombom op die Japanse stad afgegooi, wat sowat 140-duisend lewens geëis het. Drie dae later het ‘n tweede bom Nagasaki getref, met bykans 74-duisend sterftes. Verteenwoordigers van 120 lande en streke word by die seremonie verwag. Dit sluit egter nie kernstate soos Rusland, China en Pakistan in nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….