Nuus 06:00
BULLETIN 5 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering is daartoe verbind om handelsbetrekkinge met die VSA te normaliseer
# Tien polisiebeamptes van Ekurhuleni sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie
# En krieket: Marques Ackerman sal Suid-Afrika A teen Nieu-Seeland A lei
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regering gaan voort om met die Verenigde State te praat oor die normalisering van handelsbetrekkinge en die versterking van bilaterale bande. Dit volg op Amerika se besluit om ‘n eensydige tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere te hef. In sy slottoespraak gister by die ANC se Nasionale Uitvoerende Raad se vergadering in Gauteng, het Ramaphosa gevra vir meer beleggings in die instelling van die Afrika-vasteland Vryhandelsgebied en die afwisseling van uitvoermarkte:
# Die DA sê die ANC se mislukking om ‘n sterk handelsooreenkoms met die VSA te sluit het Suid-Afrikaanse uitvoerders blootgestel aan skadelike nuwe tariewe. Die party blameer die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau en die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola dat hulle nie vroeër opgetree het nie, met sakeondernemings wat nou 30-persent tariewe in die gesig staar terwyl buurlande slegs 15-persent betaal. Ryan Smith van die DA doen ‘n beroep op dringende hervorming om burokrasie te verminder:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat die bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gaan ondersoek, vergader vandag om ‘n voorsitter te kies. Mkhwanazi beweer daar is inmenging en korrupsie in die land se strafregstelsel. Van die lede wat in die veelpartykomitee dien, sluit in die ANC-hoofsweep Mdumiseni Ntuli, die EFF-leier Julius Malema, en Glynnis Breytenbach van die DA. Die komitee sal na verwagting teen die einde van Oktober verslag doen aan die Nasionale Vergadering.
# Tien polisiebeamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Ekurhuleni Metropolisie verskyn vandag in die Germiston Landdroshof op aanklagte van korrupsie en diefstal. Die beamptes is gister in hegtenis geneem terwyl hulle aan diens was nadat hulle in Junie ‘n klopjag op ‘n winkel in Edenvale uitgevoer het. Die woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Lizzy Suping, sê die beamptes word daarvan beskuldig dat hulle 35-duisend-rand in kontant gesteel het en sigarette ter waarde van 150-duisend-rand en hoofpynpille van ongeveer vyf-duisend-rand gekonfiskeer het:
# Een-en-vyftig Demokratiese lede van die staatswetgewer het uit Texas gevlug in ‘n poging om ‘n stemmery oor ‘n nuwe herverdelingskaart wat Republikeine sal bevoordeel te stop. President Donald Trump steun die voorgestelde kaart wat vyf nuwe Republikeinse setels in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers sal skep, waar Republikeine tans oor ‘n skrale meerderheid beskik. Twee-derdes van die 150-lid staatswetgewer moet teenwoordig wees om te kan stem. Die 51 Demokrate is tans in Illinois om die vereiste kworum te verhoed en beplan om daar te bly tot nadat die spesiale wetgewende sitting verby is.
# Krieket: Die Dolphins-kolwer Marques Ackerman sal weereens die kaptein van Suid-Afrika-A wees wanneer hulle die besoekende Nieu-Seeland-A aandurf. Die twee lande sal vanaf die 30ste van die maand drie eendag-wedstryde op Willowmoorepark in Benoni, Gauteng, speel, gevolg deur twee vierdag-wedstryde in Potchefstroom en Benoni. Ackerman het Suid-Afrika ook op die onlangse toer na die Wes-Indiese Eilande aangevoer waar hulle die eendag- én die vierdag-reeks gewen het. Die Protea-snelboulers Gerald Coetzee en Kwena Maphaka is in albei groepe ingesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-318-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….