Nuus 14:00
BULLETIN 4 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stel ‘n ekonomiese plan bekend teen die nuwe Amerikaanse tariewe
# Die DA moedig hervorming aan binne die NVG, maar eis nie Batohi se bedanking nie
# En rugby: Die Chiefs-flank Simon Parker kan sy All Blacks-buiging teen Argentinië maak
# Die Ministeries van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en van Handel, Nywerheid en Mededinging het ‘n plan aangekondig om Suid-Afrikaanse ondernemings te steun wat geraak word deur die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent. Maatreëls sluit in ‘n uitvoer-ondersteuningskantoor, befondsing om plaaslike nywerhede te bevorder en ‘n spesiale mededingings-vrystelling wat uitvoerders toelaat om saam te werk. Minister Parks Tau het aan die media gesê pogings is ook onderweg om nuwe handelsvennote te vind in streke soos die Europese-Unie, Asië en die Midde-Ooste:
# Glynnis Breytenbach van die DA het oproepe vir die bedanking van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, as onregverdig beskryf. Sy beskryf wel Batohi se ampstermyn as teleurstellend. Batohi het kritiek verduur na die swak hantering van hoëprofiel-sake soos die Cholota-uitlewering, die Omotoso-verhoor, en staatskapingsake. Breytenbach sê Batohi het ‘n gebreekte instelling oorgeneem wat steeds deurspek is met interne weerstand, wat haar taak onmoontlik maak. Breytenbach meen verbeteringe is nodig, maar sy het beklemtoon dat alle skuld nie op Batohi geplaas kan word nie.
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, sê die ineenstorting van Johannesburg spruit uit politieke onbestendigheid en swak leierskapskeuses oor die afgelope sewe jaar. Lesufi het teenoor SABC News die stad se dalende inkomstebasis uitgelig, wat vererger word deur werkloosheid en ondernemings wat van die netwerk wegbeweeg. Lesufi sê munisipaliteite moet basiese dienste soos water en elektrisiteit lewer. Hy vra volhoubare plaaslike regeringsbefondsing en openbare betrokkenheid by die konsep-witskrif oor plaaslike regeringshervorming:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag stel ondersoek in na ‘n vals video waarin ʼn senior bevelvoerder blykbaar Weermaglede aanhits om onwettig te staak. In die video van 14 minute wat soos ʼn veldbrand versprei het, moedig die man in kamoefleerdrag die land aan om na die Uniegebou op te ruk en te eis dat die regering bedank. Die SANW se woordvoerder, Prince Tshabalala, sê die video is misleidend en kwaadwillig:
# Rugby: Die Chiefs se flank, Simon Parker, is die enigste nuweling in die All Black-afrigter, Scott Robertson, se groep vir die eerste twee toetse van die Rugbykampioenskap. Dit volg na sy indrukwekkende Super Rugby-seisoen, met Robertson wat sê hy besit waardevolle vaardighede en het ‘n sterk fisieke teenwoordigheid. Drie ander nuwelinge, die stut Tevita Mafileo, die skrumskakel Kyle Preston en die veelsydige agterspeler Leroy Carter, is genoem as dekking vir beserings. Nieu-Seeland speel die 16de in Cordoba teen Argentinië en weer ‘n week later in Buenos Aires.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-391-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-355-dollar-507-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….