Nuus 08:00
BULLETIN 3 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê die Madlanga-kommissie sal nie tot vervolging of beleidsverandering lei nie
# Eskom sê sy kragopwekkingsvloot bied steeds goeie werking
# En rugby: Die Bulle verniel die Sharks in ‘n rekordoorwinning
# Action Society sê hulle het geen vertroue dat die Madlanga-kommissie se regterlike ondersoek na bewerings van diepgewortelde korrupsie en politieke inmenging in die polisie betekenisvolle resultate sal oplewer nie. Die woordvoerder van Action Society, Juanita du Preez, sê die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het ‘n begroting van 147,9-miljoen-rand oor ses maande aan die kommissie toegeken. Sy sê uit ondervinding is dit onwaarskynlik dat dit tot vervolging of beleidsverandering sal lei en die risiko is dat dit net nog ‘n duur oefening sal word sonder tasbare uitkomste:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is besig om aandag te skenk aan die watertekort in die land namate die vraag toeneem as gevolg van ekonomiese en bevolkingsgroei. Hy sê die regering het belowe om oor die volgende drie jaar meer as 940-miljard-rand aan infrastruktuur te bestee. Mashatile sê hierdie geld sal gebruik word om paaie en brûe op te knap, damme en waterweë te bou, hawens en lughawens te moderniseer en die ekonomie aan te dryf:
# Eskom sê die kragstelsel is steeds betroubaar, ondersteun deur ‘n verbeterde Energiebeskikbaarheidsfaktor, wat beter verrigting by aanlegte bied en Eskom in staat stel om aan die winter-elektrisiteitsvraag te voldoen. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die opwekkingsvloot lewer goeie werksverrigting, met meer as die helfte van Eskom se veertien steenkoolkragstasies wat nou teen ‘n beskikbaarheid van bo 70-persent bedryf word. Sy sê dit sluit drie stasies in wat teen meer as 90-persent funksioneer:
# Reddingspanne op soek na vyf vasgekeerde Chileense mynwerkers het ‘n liggaam gevind. Die mynwerkers is vasgekeer toe ‘n gedeelte van die El Teniente-kopermyn Donderdag ineengestort het na ‘n sterk aardbewing van 4.2. Vier mynwerkers word steeds vermis, en reddingswerkers het onderneem om hul soektog voort te sit. Sky News berig die spanne probeer om deur 90-meter rots te boor om die vasgekeerde mynwerkers te bereik, maar daar was nog geen kontak met die vasgekeerde werkers nie. Sover bekend is twee mense dood in die ineenstorting en nog nege beseer.
# En ten slotte sportnuus:
# Krieket: Voormalige Protea-ster-kolwer AB de Villiers het ‘n onoorwonne 120 lopies van 60 balle geslaan om Suid-Afrika se kampioenspan tot ‘n oorwinning te lei in die eindronde van die Wêreldkampioenskap van Legendes teen Pakistan op Edgbaston. Die Suid-Afrikaners het die oorwinning van nege paaltjies verseker met nog 19 balle oor en ‘n wennerstjek van 3,6-miljoen-rand ingepalm. Die 41-jarige De Villiers is as Speler van die Wedstryd sowel as Speler van die Toernooi aangewys. Hy het sewe sesse en 12 grenshoue geslaan en was ook die voorste lopiemaker met 429 lopies.
# En rugby: Die Bulle het gister hulle stemme dik gemaak toe hulle die Haaie met 64-0 in ‘n dominerende Curriebeker-wedstryd op Loftus Versfeld geklop het. Dit was die Bulle se grootste oorwinning oor hul mededingers uit Piesangland. Die byna tienduisend ondersteuners wat die koue in Pretoria trotseer het, het gesien hoe die tuisspan 10 drieë druk sonder dat die besoekers een keer agter die pale gedraai het. Phiwe Nomlomo se span is nou ná twee wedstryde onoorwonne. Verlede naweek het hulle die Westelike Provinsie verslaan en is saam met die Leeus die vroeë gunstelinge vir die titel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….