Nuus 11:00
BULLETIN 2 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party vra die waarnemende polisieminister vir noodsaak in die misdaadstryd
# Die geskorste regter Nana Makhubele staar ’n ampsklag in die gesig
# En rugby: Jandre Nel lei die Cheetahs na hul eerste oorwinning met vier drieë
# Die GOOD-party doen ‘n beroep op die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om noodsaak, fokus en billikheid in die misdaadstryd aan die dag te lê, nie net tydens mediakonferensies nie, maar ook in polisiedistrikte en met beleid. Cachalia is aangestel in die plek van Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is na aanleiding van die plofbare bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hoewel die bewerings ernstig is, moet die stryd teen misdaad voortgaan:
# Cosatu sê hulle is uiters bekommerd oor die uitwerking van die 30-persent-tarief wat deur die Verenigde State ingestel is op alle Suid-Afrikaanse uitvoere, uitgesonder minerale. Die federasie sê die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het ‘n goeie stap gedoen om ‘n sterk wedersyds voordelige handelspakket vir die VSA aan te bied. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê meer moet gedoen word om handels- en beleggingskwessies aan te spreek wat beide lande se ekonomiese behoeftes en werkers bevoordeel:
# Die Regterlike Dienskommissie het die geskorste Gautengse regter Nana Makhubele skuldig bevind aan growwe wangedrag nadat sy die pos as raadsvoorsitter van die Passasierspooragentskap aanvaar het na haar aanstelling in Januarie 2018 as regter. Sy word ook beskuldig van korrupsie en staatskaping by PRASA. Die kommissie het besluit om die saak na die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, te bevorder vir verrigtinge om haar as regter te verwyder. Makhubele kan die derde regter word wat verwyder word, naas John Hlophe en Nkola Motata.
# Sportnuus:
# Rugby: Die skrumskakel Jandre Nel se vier drieë het aanleiding gegee tot die Cheetahs se eerste Curriebeker-oorwinning van 42-25 oor die Pumas in Bloemfontein gisteraand. Die tuisspan was rustyd met 28-13 voor. Die ander puntemakers was Neels Volschenk en CJ Coetzee wat gesorg het dat die Cheetahs met ses drieë ‘n bonuspunt-oorwinning behaal. Dit was die Pumas se eerste nederlaag van die seisoen. Hulle het vier drieë gedruk. Die skrumskakel, Ross Braude het vir twee gesorg, terwyl senter Sango Zamlashe en senter Wian van Niekerk elk een bygevoeg het.
Steeds by rugby: Baie is steeds op die spel in môre se laaste toets tussen die Wallabies en die Britse en Ierse Leeus in Sydney al het die besoekers reeds die reeks beklink. Die Wallabies wil hul eer herwin nadat hulle in die tweede toets in Melbourne ‘n voorsprong van 23-5 verbeur het. Die besoekers probeer die eerste Leeu-span word om 3-0 te wen, en die eerste om ‘n toer onoorwonne af te sluit sedert die wenners in 1974 die Springbokke drie keer geklop het voor die vierde toets gelykop geëindig het.
# En ten slotte: ‘n Babaseuntjie wat verlede week vir ‘n Ohio-paartjie gebore is, het ontwikkel uit ‘n embrio wat vir meer as 30 jaar bevrore was. Dit is moontlik ‘n rekordtydperk van berging voor ‘n geboorte. In ‘n sogenaamde embrio-aanneming, het Lindsey en Tim Pierce drie embrio’s gebruik wat deur die 62-jarige Linda Archerd geskenk is, nadat sy hulle met behulp van ‘n embrio-aannemingsentrum gevind het. Archerd kon kies watter gesinne haar embrio’s sou aanneem. Slegs een van die drie embrio’s is suksesvol ingeplant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….