Nuus 09:00
BULLETIN 2 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Corruption Watch wen ’n Konstitusionele Hof-saak oor geslagskommissie-aanstellings
# Die polisie lê beslag op meer as 56-duisend foto’s en video’s van kindermishandeling
# En president Trump verskuif Amerikaanse kernduikbote ná uitlatings deur ’n oudpresident van Rusland
# Corruption Watch sê hul oorwinning in die Konstitusionele Hof is ‘n groot sege vir demokrasie en openbare deelname. Die hof het beslis die Parlement het nie behoorlike prosesse gevolg toe vyf kommissarisse in 2023 op die Kommissie vir Geslagsgelykheid aangestel is nie. Die organisasie se woordvoerder, Nkululeko Conco, sê die hof het ook bevind die proses was nie deursigtig nie, die publiek is te min tyd gegee om te reageer, en insette op ‘n aanlyn vorm was beperk:
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou sê nuwe uitbrekings van die hoogs aansteeklike voëlgriep is in die provinsie aangemeld. Onlangse uitbrekings is bevestig by hoenders in Noordwes en Mpumalanga, met een pluimvee-uitbraak in die Wes-Kaap wat verlede maand by geteelde eende naby die Paarl opgespoor is. Die departement se woordvoerder, Mary James, sê boonop was die virus verantwoordelik vir vrektes onder groot wit pelikane naby Malmesbury en Hartlaub-meeue in Kaapstad:
# Die polisie hou ‘n 59-jarige man in Standerton aan vir die besit van beeldmateriaal van seksuele misbruik van kinders, en beslag gelê op meer as 56-duisend foto’s en videos. Dit bring die totale aantal arrestasies as deel van Operation Bad Vibes op 16 te staan. Vyftien vuurwapens en digitale toerusting is ook gekonfiskeer. Die verdagte se borgtogverhoor sal Maandag plaasvind. Die polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die optrede onder leiding van die SAPD en Amerikaanse Binnelandse Veiligheid, se doelwit is om globale seksuele uitbuiting van kinders te beveg:
# President Donald Trump sê hy het opdrag gegee dat twee kernduikbote na toepaslike gebiede verskuif word in reaksie op kommentaar deur ‘n voormalige Russiese president Dmitri Medvedev. Medvedev het die VSA onlangs gedreig in reaksie op Trump se ultimatum aan Moskou om in te stem tot ‘n skietstilstand in Oekraïne, of streng sanksies in die gesig te staar. Rusland en die VSA besit die meeste kernwapens ter wêreld, en beide lande het ‘n vloot kernduikbote. Medvedev ondersteun Rusland se inval in Oekraïne in 2022, en is ‘n uitgesproke kritikus van die Weste.
# En ten slotte sportnuus:
# Motorsport: Lando Norris is in ‘n voorkeurposisie nadat hy die vinnigste tye voor sy McLaren-spanmaat, Oscar Piastri in gister se oefenrondtes by die Hongaarse Grand Prix voltooi het. Charles Leclerc was derde vir Ferrari, voor die Aston Martins van Lance Stroll en Fernando Alonso, en Lewis Hamilton in die tweede Ferrari. Die viermalige kampioen, Max Verstappen is in die 14de plek. Om sake te vererger vir die Nederlander, wat sy motor as “onbestuurbaar” beskryf het, gaan hy waarskynlik ondersoek word nadat hy tydens die sessie ‘n handdoek uit sy bestuurskajuit gegooi het.
# En rugby: Die hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus, Andy Farrell, het voorstelle dat die toeriste nie weer Australië moet besoek nie, as onsin afgemaak. Het het die voorstel dat die Wallabies se rugby so ver agteruit gegaan het, as beledigend beskryf. Farrell sê alle spanne het hoogtepunte en laagtepunte, en Australië sal altyd herstel. Hy sê die Leeus het ‘n wonderlike tyd gehad. Die Leeus het reeds die reeks gewen nadat hulle die eerste twee toetse gewen het. Die voorspelerafrigter, John Dalziel het sy manne aangespoor om vandag in die laaste toets in Sydney ‘n 80-minute vertoning te lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….