Nuus 08:00
BULLETIN 2 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society verwerp die Madlanga-kommissie as nutteloos
# Die Activists and Citizens Forum eis Paul Mashatile se bedanking oor sy etiese oortredings
# En rugby: Die Springbok-vroue is besiel vir hul botsing teen die Black Ferns
# Action Society het president Cyril Ramaphosa gekritiseer omdat hy nie die minister van Polisie, Senzo Mchunu, afgedank het nie, te midde van ernstige bewerings teen hom van sameswering met misdaadsindikate. Die organisasie voer aan Ramaphosa se besluit om die duur Madlanga-kommissie ter waarde van 148-miljoen-rand van stapel te stuur in plaas van om Mchunu te verwyder, is ondoeltreffend. Juanita du Preez van Action Society meen dis onwaarskynlik dat hierdie benadering geregtigheid of werklike hervorming sal meebring, net soos die Zondo-kommissie:
# Die Activists and Citizens Forum sê adjunkpresident Paul Mashatile is nie geskik vir die amp nie en moet bedank. Dit volg nadat die Parlement se Etiekkomitee hom met tien-duisend-rand beboet het omdat hy nie ‘n diamant verklaar het wat die sakeman Louis Liebenberg aan hom geskenk het nie. Liebenberg word strafregtelik aangekla. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, waarsku Mashatile se voortgesette teenwoordigheid in die amp skend die vertroue en respek van die adjunkpresident se posisie:
# Die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisile Chikungwa, het Vrouemaand 2025 amptelik bekendgestel tydens ‘n handelsdialoog in Sandton. Die geleentheid beklemtoon toegang tot befondsing en markhindernisse waarmee vroue in informele sektore te kampe het. Die minister het in ‘n onderhoud met SABC News ook samewerking met die Ministerie van Handel en Nywerheid uitgelig om vroue entrepreneurs te help te midde van Amerikaanse tariewe en moedig die opening van Afrika-markte aan om ondernemings met vroueleiers te bemagtig:
# President Donald Trump het die hoof van die agentskap wat Amerika se belangrikste data uitgee afgedank nadat ‘n swakker as verwagte verslag oor werksgeleenthede tot verdere kommer oor sy tariefbeleid gelei het. Trump het kommissaris Erika McEntarfer op sosiale media daarvan beskuldig dat sy arbeidsyfers om politieke redes manipuleer. Die besluit wek kommer oor die Withuis se inmenging in ekonomiese data en die gevolglike uitwerking op die ekonomie. Die Buro vir Arbeidstatistiek het vroeër berig slegs 73-duisend nuwe werksgeleenthede is in Julie geskep, en het sy ramings vir Mei en Junie aangepas tot 250-duisend minder geleenthede as wat beraam is.
# En sportnuus:
# Rugby: Die Springbokvroue wil hulle beste lewer vir hulle ondersteuners wanneer hulle vanmiddag op die Athlone-stadion in Kaapstad teen ‘n Black Ferns-vyftiental van Nieu-Seeland te staan kom in hulle tweede internasionale vriendskaplike wedstryd. Die besoekers het verlede week 34-26 gewen. Bok-kaptein Babalwa Latsha sê hierdie keer sal hulle daarop fokus om die kleinere aspekte van die spel eers reg te kry. Sy verwag ‘n hoë intensiteit-wedstryd, met geweldige fisieke spel en ongelooflike aksie. Kaartjies is nog by Quicket beskikbaar teen 20-rand per persoon. Die wedstryd begin vyf-uur.
# En sokker: Bafana Bafana speel op 9 September in Bloemfontein teen Nigerië in ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder. Die eerste fase van die kaartjieverkope open vandag op die Vrystaatstadion, met kaartjies teen 70-rand vir volwassenes en 40-rand vir kinders. Fase twee begin volgende Saterdag met kaartjies wat deur Ticketpro beskikbaar sal wees en fase drie sal die 16de begin met kaartjie wat by supermarkte en vulstasies gekoop kan word. Bafana Bafana is tans boaan kwalifiseringsgroep C met 13 punte, en Nigerië vierde met sewe punte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….