Nuus 07:00
BULLETIN 2 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cachalia onderneem om die Teenkorrupsie Raad se werk te ondersteun
# Suid-Afrika teken ‘n handelsoorskot van 22-miljard-rand in Junie aan
# En die bouwerk aan Donald Trump se Withuis-balsaal begin in September
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê sy dubbele rol, terwyl hy steeds voorsitter van die Nasionale Teenkorrupsieadviesraad is, plaas hom in ‘n sterker posisie om die raad se aanbevelings in werking te stel. Cachalia se raadstermyn eindig hierdie maand en hy beplan om ‘n vergadering tussen die leierskap van die SAPD en die raad te reël om aanbevelings te bespreek. Hy beloof noue samewerking met die Ministerie van Justisie en sal voorspraak maak vir anti-korrupsie hervormings in kabinetsbesprekings:
# Vier leerders is geskors na die aanranding van ‘n graad agt-leerder by die Thuto-Lesedi Secondary School in Vosloorus, in Ekurhuleni. Die Gautengse Onderwysdepartement sê die seun is in die hospitaal opgeneem nadat hy deur ‘n groep leerders aangeval is. Die voorval het tot betogings gelei wat ontwrigting by verskeie skole veroorsaak het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die skoolhoof is tydelik verskuif hangende ‘n ondersoek dat hy boelieklagtes geïgnoreer het:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het bevind dat die land ‘n voorlopige handelsoorskot van 22-miljard-rand in Junie getoon het. Uitvoere het 170,7-miljard-rand beloop met invoere wat 148,6-miljard-rand beloop het, insluitende handel met Botswana, Eswatini, Lesotho, en Namibië. Volgens die diens was die oorskot vir die ses maande tot einde Junie 80,2-miljard-rand, en laer as die 92-miljard-rand in 2024. Uitvoere het met 2,9-persent jaar-op-jaar gedaal, terwyl invoere effens hoër was teen 0,6-persent. Belangrike dalings is gesien met goud, steenkool, en voertuiguitvoere, asook petroleum- en slimfooninvoere.
# Sportnuus:
# Krieket: Pakistan mag wel as die gunstelinge beskou word vir vanmiddag se eindstryd van die Wêreldkampioenskap van Legendes teen Suid-Afrika by Edgbaston in Engeland, maar voormalige Proteas kaptein, AB de Villiers se span sal tot die einde terugveg. Pakistan was gedurende die toernooi deurgaans die gunstelinge in die toernooi vir die internasionale sterre van vroëer. Hulle het al hulle wedstryde gewen en Suid-Afrika met 31 lopies geklop, maar Suid-Afrika het verbeter en ‘n sprankelende oorwinning in die halfeindstryd teen Australië behaal. Die wedstryd begin om 5.30 nm.
# Rugby: Die Hoër Jongenskool Paarl kom vandag teen sy aartsvyand, Paarl Gimnasium, in hulle 109-de interskole te staan op die Faurestraat-stadion in die Wes-Kaapse dorp. Die geleentheid word alom beskou as die belangrikste skole-wedstryd van die jaar en is ‘n hoogtepunt van die skole-Derbyreeks. Gimmies gaan probeer om hulle onoorwonne rekord van vanjaar te behou, terwyl Boishaai probeer om hulle wendroogte van twee-jaar te verbreek. Daar word verwag dat duisende rugbyliefhebbers sal opdaag om hierdie taai en geskiedkundige tweestryd te aanskou.
# En ten slotte: Die bouwerk aan ‘n Withuis-balsaal van meer as agt-duisend vierkante meter en ter waarde van 3,6-miljard-rand sal in September begin. Die gebou vervul president Donald Trump se 15-jaar lange droom om ‘n onthaalruimte op die Withuis-perseel te bou. Die goue en wit-styl van die nuwe gebou sal ‘n noukeurige nabootsing wees van die Louis XIV-styl balsaal by Trump se Mar-a-Lago-landgoed in Palm Beach. Die nuwe balsaal sal sitplek vir 650 mense bied, meer as drie keer die aantal wat kan inpas in die East Room, wat tans die grootste onthaalruimte in die Withuis is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….