Nuus 15:00
BULLETIN 1 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie waarsku teen magsmisbruik
# Ramaphosa verduidelik die twee ministers van Polisie en beloof ‘n vinnige oplossing
# En krieket: Engeland boul Indië uit vir net 224 op die tweede oggend op die Oval
# Die nuut-aangestelde waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia sê die misbruik van wetstoepassingsmagte is ‘n groeiende bron van kommer. Cachalia het by die Uniegebou in Pretoria beklemtoon dat die polisie binne die wet moet optree wanneer hulle met gewelddadige misdadigers te doen kry. Hy het verwys na voorvalle soos Marikana en Andries Tatane, en gewaarsku teen wetteloosheid. Cachalia het algehele steun aan polisielede beloof terwyl doeltreffende, verantwoordbare en goed-bestuurde wetstoepassings voorkeur geniet om beter uitkomste te verseker:
President Cyril Ramaphosa het intussen reageer op kommer oor die situasie met twee ministers van Polisie nadat Cachalia vanoggend ingehuldig is. Hy neem waar terwyl Senzo Mchunu op spesiale verlof is en tans voorberei om voor die Madlanga-kommissie te verskyn. Ramaphosa sê hierdie tegniese punt sal binnekort opgelos word, aangesien voortgesette leierskap in wetstoepassing noodsaaklik is vir nasionale veiligheid. Hy verwag binne drie maande ‘n volledige verslag:
# Saftu vra ‘n nasionale werkstrategie wat monetêre beleid aan ‘n breër nywerheidsplan koppel en werkskepping verseker deur staatsgeleide belegging en plaaslike bedryfsondersteuning. Dit volg nadat die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee besluit het om die terugkoopkoers met 25-basispunte tot sewe-persent te verlaag. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê hulle beskou die besluit as niks anders nie as ‘n beleidsposisie om die belange van finansiële kapitaal bo dié van die werkersklas te stel:
# Die DA het kommer uitgespreek oor Lugvaartkoördineringsdiens se bewerings van verydeling deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika. Die diens sê die handgranaatvoorval op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Mei kon vermy word as ACSA nie pogings verhinder het om verouderde bagasie-skandeertoerusting te vervang nie. ‘n Ongeaktiveerde opleidingshandgranaat is per ongeluk tydens skandering deurgelaat. Die DA sê die minister van Vervoer, Barbara Creecy, moet optree teen enige onwettige optrede deur ACSA se hoofde en voor die Parlement verskyn om rekenskap te gee oor regeringsversuim en passasiers se veiligheid.
# Krieket: Gus Atkinson was Engeland se beste bouler in Indië se eerste beurt in die laaste toets op die Oval in Londen. Hy het vyf paaltjies geneem en gehelp om die besoekers vir slegs 224 uit te knikker. Josh Tongue het drie paaltjies platgetrek. Indië het op die tweede oggend hulle beurt hervat op 204 vir ses en die laaste vier paaltjies het binne ‘n halfuur gekantel. Karun Nair was Indië se beste kolwer met 57. Engeland loop 2-1 voor in die reeks van vyf toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-840-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-299-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….