Nuus 13:00
BULLETIN 1 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig deurlopende onderhandelings met Amerika te midde van die tarief-onsekerheid
# Firoz Cachalia word ingehuldig as waarnemende minister van Polisie
# En krieket: Suid-Afrika haal die eindstryd van die Wêreldkampioenskap vir Legendes met ‘n enkellopie-oorwinning oor Australië
# President Cyril Ramaphosa sê intense onderhandelings is aan die gang met Amerika terwyl lande steeds vir president Donald Trump se besluit oor tariewe wag. Ramaphosa het in die Uniegebou gesê Suid-Afrika het ‘n pakket voorgelê wat vra vir vrystellings vir belangrike uitvoerprodukte soos voertuie, staal, aluminium en sitrus, terwyl dit wedersydse belegging aanmoedig. Hy beklemtoon dat baie lande dieselfde uitdagings ondervind en hoop op ‘n skikking voor die huidige onderhandelingsgeleentheid sluit:
# Professor Firoz Cachalia is amptelik ingehuldig as waarnemende minister van Polisie in die Uniegebou in Pretoria. Cachalia neem oor by Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is na aanleiding van die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkwanazi, se bewerings van korrupsie. Die Konstitusionele Hof het gister die MK-party se aansoek teen Ramaphosa se reg tot die aanstelling verwerp. Cachalia, ‘n gewese anti-apartheidsaktivis, neem sy plek in te midde van toenemende kommer oor openbare vertroue in wetstoepassing:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verwelkom die aanstelling van regter Dunstan Mlambo as adjunkhoofregter. Dit volg op aanbevelings van die Regterlike Dienskommissie verlede maand. Mlambo dien sedert November 2012 as die Gautengse regter-president. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê Mlambo bied ‘n magdom ervaring en ‘n uitgelese rekord op die regbank. Hy voeg by Mlambo het reeds ‘n standvastige verbintenis tot die onafhanklikheid van die regbank, toegang tot geregtigheid en die hervorming van die regstelsel getoon.
# Die organisasie teen belastingmisbruik, OUTA, sê ‘n uitspraak van die Hoogeregshof in Pretoria om die Turkse maatskappy Karpowership se opwekkingslisensie om te keer, beteken die omstrede energie-ooreenkomste is nou amptelik dood en sal nie elektrisiteitpryse beïnvloed nie. Die lisensies wat deur die energie-reguleerder toegeken is, was deel van ‘n beplande ooreenkoms van 200-miljard-rand oor 20-jaar. Stefanie Fick van OUTA sê hierdie regsoorwinning beskerm die publiek teen ‘n duur en gebrekkige ooreenkoms:
# Krieket: Suid-Afrika speel môre teen Pakistan in die eindstryd van die Wêreldkampioenskap vir Legendes op Edgbaston in Engeland nadat hulle Australië met ‘n enkele lopie verslaan het. Die span het ‘n mededingende 186 vir ses aangeteken danksy Morné van Wyk se 76 en Jon-Jon Smuts se 57. Die voormalige Protea-kaptein, AB de Villiers, het hierdie keer nie ‘n bydrae met die kolf gemaak nie, maar was briljant met sy veldwerk en het Nathan Coulter-Nile van die laaste bal uitgeloop. Die Aussies het geëindig op 185 vir sewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-262-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….