Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die linkerhandse draaiboulers Keshav Maharaj en Nonkululeko Mlaba is op Krieket Suid-Afrika se toekenningsgeleentheid in Johannesburg aangewys as onderskeidelik mans- en vrouespeler van die jaar. Kaptein Temba Bavuma, wat die Proteas na hul eerste Wêreld-toetskampioenskap-sege gelei het, is aangewys as toetsspeler en ondersteuners se gunsteling van die jaar. Heinrich Klaasen, wat intussen uitgetree het, is die eendagspeler van die jaar en Anrich Nortjé die T20-speler van die jaar. Annerie Dercksen is aangewys as vroue-eendagspeler van die jaar.
# Gholf: Daniel van Tonder is bevestig as die eerste Suid-Afrikaanse deelnemer aan vanjaar se Nedbank-uitdaagtoernooi wat vroeg in Desember by Sun City in Noordwes plaasvind. Dit sal slegs sy tweede verskyning wees nadat hy sy buiging in 2014 gemaak het toe hy 29ste geeïndig het. Van Tonder het egter in 2021 die Suid-Afrikaanse Ope op dieselfde baan van die Gary Player-buiteklub gewen. Hy sê hy sien uit om aan die toernooi deel te neem na sy uiters suksesvolle seisoen op die Sonskyntoer.
# Rugby: Die Cheetahs en die Pumas skop vanaand die tweede naweek van die Curriebeker-Premierliga in Bloemfontein af. Môre reis Westelike Provinsie na Johannesburg om op Ellispark teen die Leeus te speel, terwyl die Bulle en die Haaie mekaar op Loftus pak. Sondag speel die Griekwas en die Boland Kavaliers in Kimberley. Die Leeus is tans voor op die punteleer, gevolg deur die Bulle, die Pumas en Boland. Die Cheetahs, Griekwas, WP en die Haaie is aan die onderkant van die leer.
Nog rugbynuus: Baie is steeds op die spel in môre se laaste toets tussen die Wallabies en die Britse en Ierse Leeus in Sydney al het die besoekers reeds die reeks beklink. Die Wallabies wil hul eer herwin nadat hulle in die tweede toets in Melbourne ‘n voorsprong van 23-5 verbeur het. Die besoekers probeer die eerste Leeu-span word om 3-0 te wen, en die eerste om ‘n toer onoorwonne af te sluit sedert die Onoorwinlikes in 1974 die Springbokke drie keer geklop het voor die vierde toets gelykop geëindig het.
# En motorsport: Die viermalige heersende wêreldkampioen, Max Verstappen, het bevestig hy bly by Red Bull vir die 2026 Formule Een-seisoen. Die 27-jarige Nederlander is tot 2028 onder kontrak by Red Bull, maar daar was sprake van ‘n moontlike skuif na Mercedes volgende jaar. Verstappen het voor die naweek se Hongaarse Grand Prix gesê dit was nog altyd sy voorneme om volgende jaar by die span te bly, veral met F1 wat ‘n nuwe era van tegniese regulering betree:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….