Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# China het invoertariewe op Suid-Afrikaanse rooibostee met ‘n beduidende 80-persent verlaag. Die invoerbelasting, nou op ses-persent, was voorheen tussen 15- en 30-persent. China is die sewende grootste mark vir Suid-Afrikaanse rooibostee. Volgens die Rooibosraad van Suid-Afrika vervaardig die land byna 20-miljoen-kilogram jaarliks en verskaf werk aan vyf-duisend mense. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging beskou die tariefverlaging as ‘n deurbraak in die Chinese mark, wat dui op potensiële groei en geleenthede vir Suid-Afrika se rooibos-uitvoerders.
# Die Re.Bag.Re.Use-projekspan sê hy is geïnspireer om voort te gaan om ‘n verskil te maak. Die projek het onlangs sy tweede internasionale toekenning ontvang, en het die Silwer Stevie-toekenning in die Vroue in Sake-kategorie gewen: Startup of the Year – Consumer Products Industries. Vyftien vroue is betrokke by Re.Bag.Re.Use; vyf om leë plastiekbroodsakkies in repe te sny en tien wat dan hierdie repe in pragtige multifunksionele items verander. Die stigter, Regine le Roux, sê die internasionale erkenning is ‘n duidelike teken hulle beweeg in die regte rigting.
# Die minister van Kleinsakeontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, oorhandig vandag in Mbombela, Mpumalanga, masjinerie en toerusting ter waarde van 1,3-miljoen-rand aan 90 informele handelaars. Dis deel van die departement se program vir die ontwikkeling van informele en mikro-ondernemings. Die departement se woordvoerder, Cornelius Monama, sê hierdie ondernemings is hoofsaaklik in die klere-, bou-, bak-, haarkappery-, spyseniering- kleinhandel- en dienstebedryf:
# Die sanger, liedjieskrywer en maatskaplike aktivis Simphiwe Dana het bekendgemaak dat die produksie MOYA nog ‘n speelvak in die Artscape-teater in Kaapstad gaan kry. Die produksie sal die gehoor op ‘n musikale reis neem met verskillende segmente van acapella-musiek verwerk deur Titi Luzipo, en met dansers van die Vuyani-dansteater. Dana sê MOYA is gebore uit haar behoefte vir vrede en vertroosting ná haar ma se dood in 2021. Die produksie met Gregory Maqoma as regisseur is op 26 en 27 Januarie te sien.
# Ten slotte: Die films Oppenheimer en Barbie loop voor met benoemings vir die 30ste Screen Actors Guild-toekennings. Albei het vier benoemings ontvang, insluitend vir beste toneelspel deur ‘n rolverdeling in ʼn rolprent. Succession met hulle vyf het die meeste televisiebenoemings ontvang gevolg deur Ted Lasso, The Bear en The Last of Us. Akteurs wat benoem is, sluit in Margot Robbie vir Barbie, Bradley Cooper vir Maestro en Emma Stone vir Poor Things. Die toekenningseremonie word op 24 Februarie vir die eerste keer ooit wêreldwyd regstreeks op Netflix gestroom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….