Nuus 09:00
BULLETIN 1 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Handel en Nywerheid stel ‘n ondersteuningskantoor beskikbaar vir maatskappye geraak deur Amerikaanse tariewe
# Cosatu sê die laer terugkoopkoers is broodnodige verligting vir baie werkers en hul gesinne
# En die ANC eis ‘n ondersoek na aanranding op ‘n EFF-raadslid
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die Uitvoerondersteuningskantoor bekendgestel. Dis ‘n direkte kontakpunt vir maatskappye wat geraak word deur die 30-persent-heffing op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika wat vandag van krag word. Die kantoor sal onder andere inligting verskaf oor verwikkelings, raadgewende dienste aan uitvoerders bied oor alternatiewe uitvoerbestemmings, asook riglyne oor intree-prosesse op markte. Tau sê die tariefverhoging bedreig die land se uitvoervermoë:
Ook in Kanada heers kommer oor die tariefverhoging. Kanada se Kamer van Koophandel het president Donald Trump se hoër tariewe vir die land veroordeel. Trump het gister ʼn uitvoerende bevel onderteken wat tariewe vir Kanada van 25- tot 35-persent verhoog. Hy sê dis deels te wyte aan Kanada se versuim om die invloei van onwettige dwelms oor die grens na Amerika te keer. Trump het Woensdag gewaarsku Ottawa se besluit om ʼn Palestynse staat te erken, maak ʼn handelsooreenkoms moeilik. Die Kamer se president, Candace Laing, sê nog meer tarief-onstuimigheid bevorder nie Noord-Amerika se ekonomiese sekerheid nie.
# Die vakverbond Cosatu het die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre beleidskomitee om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verlaag, verwelkom. Die terugkoopkoers waarteen die sentrale bank geld aan kommersiële banke uitleen, is tans sewe-persent, terwyl die prima uitleenkoers tot 10,5-persent verlaag is. Die woordvoerder van Cosatu, Zanele Sabela, sê die verlaging in die terugkoopkoers sal ekonomiese groei aanwakker, help met werkskepping en help om die werkloosheidsyfer van 43,1-persent te laat krimp:
# Die ANC in Kaapstad eis ‘n onmiddellike onafhanklike ondersoek na die gewelddadige aanval op ‘n EFF-raadslid. In ‘n videogreep word gesien hoe veiligheidspersoneel vir Mzubani Dambuza tydens ‘n gedwonge verwydering uit Woensdag se Kaapstadse raadsvergadering, wurg todat hy bewusteloos is. Hy het ‘n aanrandingsklag by die polisie gelê. Die ANC se koukuswoordvoerder, Judy-Ann Stevens, sê hulle veroordeel die gewelddadige behandeling van Dambuza ten sterkste:
# Tennis: Derde gekeurde Lorenzo Musetti van Italië is by die Kanadese Ope uitgeskakel na ʼn nederlaag in die derde ronde teen die Amerikaner, Alex Michelsen. Die agtste gekeurde Noorweër, Casper Ruud, het die vierde ronde gehaal nadat hy Nuno Borges van Portugal verslaan het. Hy kom nou teen die Rus, Karen Khachanov, te staan wat met die Amerikaanse kwalifiseerder, Emilio Nava, afgereken het. In die vrouetoernooi in Montreal is die topgekeurde Amerikaner, Coco Gauff, deur na die vierde ronde na sy Veronika Kudermetova van Rusland geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-419-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-291-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….