Nuus 18:00
BULLETIN 31 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd dat minister Tau nie ‘n handelsooreenkoms met Amerika sal sluit voor tariewe in werking tree nie
# Die Reserwebank verlaag die terugkoopkoers tot sewe-persent
# En swem: Pieter Coetzé oortref nog ‘n Afrika-rekord in Singapoer
# Die DA se woordvoerder oor Finansies, Mark Burke, sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het slegs ure om ‘n handelsooreenkoms met Amerika te sluit voordat tariewe van 30-persent in werking tree. Burke beskuldig Tau daarvan dat hy aansporings voorstel wat met belastingbetalersgeld befonds sal word, in plaas daarvan om kritieke ooreenkomste te beklink. Burke sê met 40-miljard-rand wat reeds verlede jaar verlore gegaan het met doeane-subsidies, kan die Tesourie nie bekostig om nog verdere ANC-mislukkings te befonds nie. Hy is gekant teen enige reddingsboei as die onderhandelings misluk.
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die terugkoopkoers intussen tot sewe-persent verlaag, net ure voor die Amerikaanse president Donald Trump se verwagte aankondiging van ‘n tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse goedere. Die president van die sentrale bank, Lesetja Kganyago, het verswakkende sake- en verbruikersvertroue as redes aangegee, met inflasie op drie-persent. Hoewel voedselpryse styg, is die verwagting dat inflasie bestendig sal bly. Kganyago beklemtoon die bank voorspel matige groei gerugsteun deur strukturele hervormings:
# Die Konstitusionele Hof het oud-president Jacob Zuma en die MK-party regstreekse toegang geweier om president Cyril Ramaphosa se besluit uit te daag om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Die party en sy leier wou ook hê dat die hof die aanstelling van ‘n professor van Wits, Firoz Cachalia, as waarnemende minister tersyde moet stel. Regter Rammaka Mathopo het beslis dat die aansoek nie binne die hof se jurisdiksie val nie:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy het meer as 426-miljoen-rand van skole se uitstaande munisipale skuld oorbetaal. Woordvoerder Steve Mabona sê dit verteenwoordig 99,95-persent van die 426,45-miljoen-rand wat einde Junie aan munisipaliteite en Eskom verskuldig was. Hy sê die departement bevestig dat die uitstaande balans betaal sal word:
# Swem: Suid-Afrika se wêreldkampioen, Pieter Coetzé, het nog ‘n Afrika-rekord verbeter toe hy die vinnigste tyd opgestel het in die halfeindronde van die 200-meter-rugslag op die Wêreld-watersport-kampioenskap in Singapoer. Hy het vroeër die week die goue medalje in die 100-meter-rugslag gewen, ook in ‘n Afrika-rekordtyd. Kaylene Corbett het met ‘n kragtige poging vierde gekom in haar halfeind van die 200-meter borsslag en in die sewende vinnigste tyd gekwalifiseer vir die eindronde. Albei eindrondes vind môre plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-146-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-297-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….