Nuus 17:00
BULLETIN 31 Julier 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers word met 25 basispunte verlaag
# Die Konstitusionele Hof weier MK-party se aansoek teen Ramaphosa
# En minister Parks Tau sê transformasie-doelwitte sal nie in gedrang kom tydens handelsgesprekke met Amerika nie
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die terugkoopkoers van môre af tot sewe-persent verlaag, net ure voor die Amerikaanse president Donald Trump se verwagte aankondiging van ‘n tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere. Die president van die bank, Lesetja Kganyago, het verswakkende sake- en verbruikersvertroue, met inflasie op drie-persent, as redes aangegee. Hoewel voedselpryse styg, is die verwagting dat inflasie bestendig sal bly. Khanyago het beklemtoon die bank voorspel matige groei, gerugsteun deur strukturele hervormings:
# Die Konstitusionele Hof het oud-president Jacob Zuma en die MK-party regstreekse toegang geweier om president Cyril Ramaphosa se besluit uit te daag om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Die party en sy leier wou ook hê dat die hof die aanstelling van ‘n professor van Wits, Firoz Cachalia, as waarnemende minister tersyde moet stel. Regter Rammaka Mathopo het beslis dat die aansoek nie binne die hof se jurisdiksie val nie:
# Die minister van Handel en Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika sal voortgaan om inklusiewe ekonomiese beleide na te streef ondanks onsekerheid oor dreigende Amerikaanse tariewe. Die sperdatum is môre en die regering wag steeds op reaksie van Washington oor die voorstel om die tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere af te weer. Tau het aan Newzroom Afrika gesê die regering is gereed om die betrokke ondernemings met uitvoermaatreëls by te staan:
# Duitsland se minister van Buitelandse Sake, Johann Wadephul, sê Israel word toenemend op diplomatieke gebied geïsoleer oor die humanitêre krisis in Gaza. Hy het voor sy vertrek na Israel gesê die Verenigde Nasies se onlangse konferensie oor ‘n tweestaat-oplossing vir die Israels-Palestynse konflik het getoon Israel bevind homself toenemend in die minderheid. Duitsland is een van Israel se sterkste diplomatieke bondgenote.Wadephul sê egter ‘n groeiende aantal Europese lande is gereed om ‘n Palestynse staat te erken weens openlike dreigemente oor besetting deur sommige in die Israelse regering.
# Rugby: Die Wallabie-skrumskakel Nic White gaan uittree na die laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus. Die 35-jarige het sedert 2013 72 toetse gespeel en 46 punte aangeteken. White sê hy het as jong seun daarvan gedroom om die goue trui oor sy kop te trek en is ongelooflik trots op wat hy bereik het, maar dis nou die regte tyd vir hom om die leisels aan ‘n jonger geslag te oorhandig. Hy sal die nommer nege-trui dra in Saterdag se toets in Sydney.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-263-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….