Goeie Nuus
BULLETIN 31 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Noordwes-Universiteit het ‘n eredoktorsgraad toegeken aan die vooraanstaande Karibiese geskiedkundige en visekanselier van die Universiteit van die Wes-Indiese Eilande, professor Hilary McDonald Beckles. Die toekenning erken sy uitsonderlike akademiese bydraes en sy wêreldwye voorspraak vir maatskaplike geregtigheid. Hy het meer as 100 portuur-geëvalueerde artikels en 20 akademiese boeke geskryf. Beckles het die eredoktorsgraad as ‘n diep persoonlike eer beskryf:
# Die Johannesburgse ombud, Siduduzo Gumede, moedig inwoners aan om die Poortjie-gemeenskap in Streek G te ondersteun deur nuwe of gebruikte boeke en nuwe sokkies te skenk. Die veldtog met die tema, Dis in jou hande, wil warmte, waardigheid en hoop bring aan ‘n gemeenskap wat swaarkry. Gumede sê elke skenking bied meer as materiële bystand omdat ‘n paar warm sokkies wys iemand word raakgesien en versorg, terwyl ʼn boek mense herinner dat hulle drome saak maak.
# Kaapse Forum en die Internasionale Landbou-akademie vir Afrika het kragte saamgesnoer om leerders aan landbouskole in die Wes-Kaap te help om ‘n loopbaan in landbou te ontsluit. Dit is deel van i3A se skoolprogram. Bernard Pieters van Kaapse Forum sê die vennootskap sal dit vir leerders moontlik maak om van graad 10 af hul landboustudies in verskeie landboudissiplines te begin, insluitend beesvleisproduksie, gewasproduksie, natuurlewebestuur of wingerdbou:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het huise oorhandig in Eendekuil in die Bergrivier-munisipaliteit – lank voor die geskeduleerde voltooiingsdatum. Die projek van elf-miljoen-rand wat in September voltooi moes wees, het 45 Breaking New Ground-eenhede gelewer. Simmers sê die projek is deel van die behuisingsprojekte in Piketberg en Porterville wat voortgaan en na verwagting ook voor die sperdatum voltooi sal wees:
# En ten slotte: Forbes se vyfde jaarlikse 50-bo-50-lys plaas die kollig op baanbreker-vroue wat weier om te aanvaar hul beste jare is verby. Vanjaar se lys is in vier breë kategorieë verdeel: invloed, vernuwing, belegging en leefstyl. Die lys sluit in die aktrise Halle Berry, wat op vrouegesondheid fokus; die stigter van die Vroue Alzheimer-beweging, Maria Shriver; en Krystal Biotech se medestigter, Suma Krishnan, wat oplossings vir siektes ontwikkel. Van die ander bekendes op die lys is Meals on Wheels se hoof, Ellie Hollander, en die aktivis Monica Lewinsky.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….