Eko-minuut 13:30
BULLETIN 31 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Wes-Kaap het die Wildernis-natuurreservaat van 643 hektaar tot provinsiale natuurreservaat verklaar ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede. Die reservaat naby Heidelberg is die tuiste van talle belangrike spesies, wat die bedreigde Breërivier-rooivin insluit. CapeNature se bestuurder, Petro van Rhyn, sê die reservaat speel ‘n groot rol in die beskerming van varswater-verskeidenheid, bedreigde spesies en ekologiese deurgange:
# Hernubare bronne sal na verwagting reeds vanjaar of teen 2026 steenkool verbysteek as die wêreld se grootste bron van elektrisiteit. Dit is volgens die Internasionale Energie-agentskap se halfjaarlikse verslag vir 2025. Die vraag na elektrisiteit sal vanjaar met 3,3-persent styg en teen 2026 met 3,7-persent. Dis meer as twee keer so vinnig soos die algehele groei in energie-aanvraag oor dieselfde tydperk. Die agentskap sê die bestendige toename in gas-aangedrewe kragopwekking sal steeds voortgaan om steenkool en olie in talle streke te vervang.
# En Namibië se 2025 halfjaar-oorsig oor groen waterstof bevestig dat ‘n teoretiese meesterplan ter waarde van 29-miljoen-rand vir ‘n oorgrens waterstof-pyplyn met Suid-Afrika teen die middel van 2026 ontwikkel sal word. Die pyplyn verbind spilpunte in Lüderitz, Boegoebaai en Saldanhabaai met ‘n deurgang na Gauteng. Die projek, wat deur Climate Fund Managers, Gasunie in Nederland en die Europese Unie befonds word, ondersteun albei nasies se netto-nul doelwitte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….