Nuus 12:00
BULLETIN 31 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank sal na verwagting vandag die terugkoopkoers sny of onveranderd laat
# UNICEF sê Gaza is ’n perfekte storm van lyding vir kinders
# En rugby: Die Wallabies se ster-speler, Rob Valetini, onttrek aan die laaste toets teen die Leeus
# Ekonome verwag dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee die terugkoopkoers vandag met 25 basispunte sal verlaag of onveranderd sal hou. Dit is te midde van plaaslike en internasionale ekonomiese onsekerhede. Inflasie het in Junie met 0,2-persent tot drie-persent gestyg van die 2,8-persent in April en Mei. Aluma Capital se hoofekonoom, Frederick Mitchell, sê terwyl plaaslike toestande ‘n onveranderde koers ondersteun, maak die ingewikkelde wisselwerking van internasionale onsekerhede, handelsbeleidrisiko’s en plaaslike inflasionêre druk enige verskuiwing onwaarskynlik.
Die Vereniging van Staatsamptenare sê intussen terwyl inflasie binne die sentrale bank se teikenband is en die ekonomie teen ‘n slakkepas groei, is ‘n rentekoersverlaging geregverdig en nodig. Die vakbond sê ‘n verlaging in rentekoerse sal broodnodige ruimte vir werkers bied en die ekonomie stimuleer. Hy voeg by dat ‘n versigtige maar beslissende koersverlaging ‘n verbintenis tot inklusiewe ekonomiese herstel sal wys.
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die oorgang na kernenergie sal ‘n sterk finansiële verbintenis vereis. Kernvermoë in Afrika bly onveranderd en die vasteland se enigste operasionele kernkragsentrale, Koeberg, is in Suid-Afrika. Kernkrag maak ongeveer vier-persent van die land se elektrisiteitsvoorsiening uit. Graham-Maré sê kernenergie is belangrik om energie-sekerheid te bereik, koolstofvrystellings te verminder en volhoubaarheid en energie-bekostigbaarheid te ondersteun:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Kinderfonds, UNICEF, sê humanitêre toestande in Gaza bly ‘n katastrofe, met kinders wat honger ly, oorwerkte hulpwerkers en skaars brandstof- en watervoorraad. ‘n Half-miljoen mense, byna ʼn kwart van die bevolking, beleef toestande soortgelyk aan hongersnood terwyl die res ook swaarkry. Die Israelse Weermag het glo sedert laat in Mei meer as ‘n duisend Palestyne doodgeskiet toe hulle wou toegang kry tot kos. UNICEF se woordvoerder, Ricardo Pires, sê dis ʼn perfekte storm van lyding vir kinders:
# Rugby: Australië se uitblinker-losvoorspeler, Rob Valetini, is weens ‘n kuitbesering nie beskikbaar vir Saterdag se derde en laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus nie. Hy word deur Tom Hooper vervang. Taniela Tupou keer terug na die Wallabies se voorry in die plek van die beseerde Allan Alaalatoa. Die skrumskakel Nic White is terug in die span en hy vervang Jake Gordon, terwyl Dylan Pietsch as linkervleuel in die plek van die beseerde Harry Potter gaan diens doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-619-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….