Nuus 11:00
BULLETIN 31 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die regering se stilswye oor Amerikaanse tariewe is dawerend
# UNICEF sê Gaza is ’n perfekte storm van lyding vir kinders
# En rugby: Die Wallabies se ster-speler, Rob Valetini, onttrek aan die laaste toets teen die Leeus
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het misluk in sy pogings om die verslegtende verhouding met Amerika reg te stel. Die twee lande het steeds nie ‘n handelsooreenkoms bereik nie, terwyl president Donald Trump se tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere môre in werking tree. ActionSA se president, Herman Mashaba, sê die gevolge van die instelling van die handelstariewe sal na beraming ekonomiese groei met ‘n verdere 0,3-persent verminder en gevolglik lewenskoste verhoog:
# Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap, Themba Matlou, het ‘n beroep gedoen op uitvoerende beamptes en senior bestuurders in al nege provinsies om begunstigdes by te staan tydens Augustus se betalings-hersieningsiklus. Die projek het ten doel om lang toue te verminder en naatlose toelaaghersienings te verseker. Matlou beklemtoon geen begunstigde moet weggewys word nie. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, het betrokke begunstigdes aangespoor om SASSA-kantore te besoek met geldige dokumente om persoonlike inligting by te werk:
# Die DA sal die media vandag voor Johannesburg se raadsitting toespreek oor kommer rondom die stad se aanhoudende mislukkings. Terwyl die G20-beraad oor drie maande plaasvind, bevraagteken die DA die doeltreffendheid van parallelle strukture soos die Presidensiële Werksgroep en burgemeester Dada Morero se sogenaamde bomb sqaud. Die party beskuldig ook die burgemeester dat hy met belangrike kwessies afwesig is. Die nuuskonferensie sal gelei word deur die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, en die koukusleier in Johannesburg, Belinda Kayser-Echeozonjoku.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Kinderfonds, UNICEF, sê humanitêre toestande in Gaza bly ʼn katastrofe, met kinders wat honger ly, oorwerkte hulpwerkers en skaars brandstof- en watervoorraad. ‘n Half-miljoen mense, byna ʼn kwart van die bevolking, beleef toestande soortgelyk aan hongersnood terwyl die res ook swaarkry. Die Israelse Weermag het glo sedert laat in Mei meer as ‘n duisend Palestyne doodgeskiet toe hulle wou toegang kry tot kos. UNICEF se woordvoerder, Ricardo Pires, sê dis ʼn perfekte storm van lyding vir kinders:
# Rugby: Australië se uitblinker-losvoorspeler, Rob Valetini, is weens ‘n kuitbesering nie beskikbaar vir Saterdag se derde en laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus nie. Hy word deur Tom Hooper vervang. Taniela Tupou keer terug na die Wallabies se voorry in die plek van die beseerde Allan Alaalatoa. Die skrumskakel Nic White is terug in die span en vervang Jake Gordon, terwyl Dylan Pietsch linkervleuel speel in die plek van die beseerde Harry Potter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-621-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-300-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….