Nuus 08:00
BULLETIN 31 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Suid-Afrikaanse uitvoerders gaan binne ure hul toegang tot die Amerikaanse mark verloor
# Die regering slaan toe op die watermafia wat infrastruktuur saboteer
# En Kanada is die jongste land wat van voorneme is om ‘n Palestynse staat te erken
# Die DA sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se voorstel dat die heroorweging van handelsverhoudinge met Amerika onafwendbaar is, is kommerwekkend. Suid-Afrika se handelspan wend ‘n laaste poging aan voor môre se sperdatum waarop tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere na dié land ingestel word. Toby Chance van die DA sê die land se uitvoerders kan binne ure vir minstens drie jaar toegang tot een van die wêreld se grootste markte verloor:
Vier groot federasies, Cosatu, Saftu, Fedusa en Nactu, sê intussen die Trump-era se handelsoorlog ontbloot die gevolge van tariewe wat as wapens gebruik word. Suid-Afrika is een van talle lande wat hoë Amerikaanse tariewe verwag terwyl dié land sy eie vervaardigers en arbeidsmag probeer beskerm. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê die antwoord is nie ʼn terugkeer na ongereguleerde globalisering nie, maar ʼn handelstelsel wat gebaseer is op eendragtigheid en gelykheid:
# Die Departement van Water en Sanitasie beloof streng optrede teen misdadige netwerke wat Suid-Afrika se waterinfrastruktuur saboteer. Adjunkminister David Mahlobo het tydens ‘n webinaar van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie beklemtoon die watermafia vandaliseer belangrike stelsels en verkoop water teen opgeblaasde pryse, wat dienslewering en openbare gesondheid bedreig. Mahlobo het dringende samewerking tussen die regering, gemeenskappe en wetstoepassing versoek. Hy het verklikkers gevra om na vore te kom en openbare waaksaamheid aangespoor. Hy waarsku sabotasie van waterdienste is ekonomiese verraad en sal nie ongestraf bly nie.
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê sy land sal in September by die Verenigde Nasies se 80ste Algemene Vergadering die staat Palestina amptelik erken. Dis die derde G7-land wat die aankondiging maak op die hakke van Frankryk en die Verenigde Koninkryk. Carney sê Kanada is lank reeds verbind tot ʼn tweestaatoplossing van ʼn onafhanklike, lewensvatbare, soewereine Palestynse staat wat in vrede en veiligheid langs Israel bestaan:
# Atletiek: Die Wêreldatletiek-raad het nuwe regulasies goedgekeur wat deelname aan die vroue-kategorie in wêreldkompetisies betref. Atlete wat van September af in die vrouekategorie wil deelneem, moet ʼn eenmalige toets vir die SRY-geen ondergaan wat ʼn betroubare aanwyser van biologiese geslag is. Die nuwe regulasies sal die eerste keer toegepas word by die Wêreld-atletiekkampioenskap in Tokio. Wêreld-atletiek se president, Sebastian Coe, sê hulle sal die integriteit van vrouesport beskerm en bevorder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-428-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….