Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt vandag is sokker: SuperSport het die regte bekom om al 52 wedstryde van die Afrikabeker-toernooi uit te saai nadat ‘n kommersieel haalbare ooreenkoms met die regtehouers, New World TV, beklink is. Die pronkstuk van die vasteland word van Saterdag tot die 11de van aanstaande maand deur Ivoorkus aangebied. Die besturende direkteur van New World TV, Nimonka Kolani, sê om die regte te bekom bewys niks is belangriker nie as die geluk van Afrikane wat graag die vordering van hulle gunsteling span wil dophou gedurende die grootste sokkerkompetisie in Afrika.
Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, glo intussen die span kan goed vaar in die Afrikabeker-toernooi. Suid-Afrika vertrek vandag na die Ivoorkus nadat hy gister sy voorbereidings afgesluit het met ‘n oefenwedstryd teen Lesotho in Pretoria. Die toernooi begin Saterdag met die openingswedstryd tussen die gasheer en Guinee-Bissau. Suid-Afrika begin sy veldtog Dinsdag teen Mali, gevolg deur groepswedstryde teen Namibië en Tunisië. Williams het Suid-Afrikaners gevra om hulle span te ondersteun:
# Vervolgens, rugby: Die Rugbyvoetbalunie het strenger strawwe bekendgestel vir spelers en afrigters wat skeidsregters in Engeland mishandel. Nege-en-veertig-persent van die wedstrydbeamptes wat deur die unie ondervra is, het gesê dat hulle in onlangse seisoene aan mishandeling blootgestel was. Persone wat op enige vlak van die spel in Engeland skuldig bevind word, sal nou ‘n minimum van twee, drie of vier ekstra weke saam met hulle straf ontvang, afhangende van die intreevlak van hul oortredings. Boetes, briewe van verskoning en skeidsregterskursusse sal steeds vir dissiplinêre panele beskikbaar wees wanneer hulle uitsprake oorweeg.
# Volgende aan die beurt is tennis: Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic begin sy veldtog vir ʼn rekord elfde Australiese Ope-titel teen ʼn kwalifiseerder of gelukkige verloorder. Die Serwiër kom moontlik in die derde ronde teen die Brit, Andy Murray, te staan en in die kwarteindronde teen die Griek, Stefanos Tsitsipas. Carlos Alcaraz van Spanje is die topgekeurde in die onderste helfte van die trekking en skop sy toernooi af teen die Fransman Richard Gasquet. In die eerste ronde vir vroue takel die topgekeurde Iga Swiatek van Pole die Amerikaner en 2020-kampioen, Sofia Kenin, terwyl Aryna Sabalenka van Belarus begin om haar titel teen ʼn kwalifiseerder te verdedig.
# Ons sluit af met motorsport: Guenther Steiner het sy rol as spanhoof van die Formule Een-Haasspan met onmiddellike ingang verlaat. Die Italianer was in beheer van Haas sedert die span in 2016 by Formule Een aangesluit het. Haas het verlede jaar laaste geëindig in die vervaardigerskampioenskap. Die span se direkteur van Ingenieurswese, Ayao Komatsu, is in Steiner se plek aangestel. Haas se eienaar, Gene Haas, sê dis duidelik dat hulle prestasies op die baan moet verbeter. Die seisoen se eerste wedren is die Bahrein Grand Prix wat volgende maand plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….