Nuus 13:00
BULLETIN 30 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyftien Westerse nasies vra dat lande wêreldwyd ‘n Palestynse staat erken
# Solidariteit verwelkom die Amerikaanse verslag oor plaasaanvalle
# En krieket: Daar is groot onsekerheid of die halfeindstryd tussen Indië en Pakistan in die Wêreldkampioenskap van Legendes sal voortgaan
# Vyftien Westerse lande vra ander lande om ‘n Palestynse staat te erken. Ministers van Buitelandse Sake het na ‘n vergadering in New York ‘n gesamentlike verklaring uitgereik wat die twee-staat-oplossing weer laat opleef. Frankryk se president, Emmanuel Macron, het verlede week aangekondig dat hy Palestina se staatskap in September amptelik sal erken, wat sterk kritiek van Israel en Amerika ontlok het. Eerste minister Keir Starmer het ook aangekondig dat Brittanje Palestina sal erken tensy Israel daadwerklike stappe doen, insluitend om tot ‘n wapenstilstand in Gaza in te stem.
Suid-Afrika se minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê intussen die land is gekant teen oorlog en verkies dialoog bo geweld. Hy het op die konferensie gesê daar kan nie vrede wees terwyl Palestyne se voortbestaan bedreig word deur Israel se optrede in Gaza nie:
# Solidariteit verwelkom die Amerikaanse regering se erkenning van die wreedheid en uniekheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika. Dit volg op ‘n ondersoek deur die Amerikaanse Departement van Buitelandse sake se Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid. Hy het bevind dat plaasaanvalle nie gewone misdade is nie, maar dat slagoffers in sekere gedokumenteerde gevalle gemartel of vermoor word sonder dat enigiets gesteel word. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê die meeste lande en die hoofstroommedia wêreldwyd het lankal verkies om die probleem te ontken:
# Die Ministerie van Elektrisiteit en Energie is vandag gasheer vir die derde vergadering van die G20-werksgroep vir energie-oordrag by Sun City in Noordwes. Die driedaagse vergadering is deel van Suid-Afrika se G20-vergaderings wat gevorderde beleids-koördinasie oor volhoubare energie, infrastruktuur-ontwikkeling en klimaats-weerstandigheid insluit. Onderwerpe wat bespreek word, sluit in strategiese vennootskappe om energie-doeltreffendheid in Afrika te finansier, kern-energie vir Afrika en klein modulêre reaktors, en om volhoubare brandstof en materiale in die toekoms te bespoedig.
# Krieket: Suid-Afrika en Australië speel teen mekaar in een halfeindstryd van die Wêreldkampioenskap van Legendes, maar daar is groot onsekerheid oor die ander wedstryd tussen die aartsvyande, Indië en Pakistan. Hulle groepswedstryd is vroeër afgestel nadat sommige Indiese spelers geweier het om te speel weens die onlangse grens-botsings. ‘n Indiese borg het ook aan die halfeindstryd onttrek en sê terreur en krieket gaan nie saam nie. Suid-Afrika, aangevoer deur AB de Villiers, en Australië speel môre op Edgbaston.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-281-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….