Nuus 07:00
BULLETIN 30 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is geen waarborge dat Suid-Afrika teen Augustus ‘n Amerikaanse handelsooreenkoms sal sluit nie
# Die Konstitusionele Hof sal vandag die MK-party se uitdaging van president Ramaphosa se Mchunu-besluit aanhoor
# En rugby: Die goedkoopste kaartjies vir die 2027 Wêreldbeker sal meer as ‘n duisend rand kos
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat Suid-Afrika teen Vrydag ‘n gunstige handelsooreenkoms met Amerika sal sluit nie. Dangor het tydens ‘n lesing voor die Kgalema Motlanthe Stigting in Sandton gewaarsku dat eise oor binnelandse beleide soos swart ekonomiese bemagtiging die proses bemoeilik. Hy het kommer uitgespreek dat die VSA druk uitoefen op Suid-Afrika om sy soewereiniteit te beperk om die ooreenkoms te verseker:
# Die Konstitusionele Hof hoor vandag ‘n dringende aansoek van die MK-party aan wat president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas en Firoz Cachalia as waarnemende minister aan te stel, uitdaag. Die MK-party voer aan Ramaphosa het nie volgens die Grondwet opgetree toe hy Mchunu op verlof geplaas en Cachalia, wat nie ʼn kabinetsminister is nie, aangestel het nie. Ramaphosa sê dis binne sy mag om ministers aan te stel en af te dank, en hulle op spesiale verlof te plaas.
# Die Nasionale Raad van Provinsies oorweeg vandag die Toedelingswetsontwerp en die Wysigingswetsontwerp op Eskom-skuldverligting. Die Nasionale Vergadering het verlede week die twee wetsontwerpe aanvaar. Die Toedelingswetsontwerp maak voorsiening vir fondse van die Nasionale Inkomstefonds vir die 2025/2026-boekjaar. Die Wysigingswetsontwerp op Eskom-skuldverligting stel betaling van rente in op lenings aan die kragvoorsiener, in plaas van die vorige rentevrye leningstruktuur. Die raad moet die Toedelingswetsontwerp goedkeur voordat die begrotingsproses afgehandel kan word.
# Die Oos-Kaapse polisie het drie verdagtes gearresteer in verband met die moord op Emalahleni-munisipaliteit se hoofsweep, Xoliseka Lali. Die 43-jarige Lali is deur onbekende verdagtes by sy woning in South East Village, Westbourne in Komani doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê die verdagtes is amptelik van moord aangekla en verskyn vandag in die Queenstown-landdroshof:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer sê die Verenigde Koninkryk sal Palestina in September as ʼn staat erken tensy Israel stappe doen om die situasie in Gaza te beëindig en ʼn skietstilstand bereik. Ongeveer 140 lande erken amptelik ʼn Palestynse staat en verlede week het Frankryk beloof om in September tydens ʼn vergadering van die Verenigde Nasies die eerste G7-land te wees wat dit doen. Starmer sê die VK se doel bly ʼn veilige Israel langs ʼn lewensvatbare en soewereine Palestynse staat:
# Rugby: Wêreldrugby beloof ‘n groter, omvattender en toegankliker Wêreldbekertoernooi ooit in Australië oor twee jaar. Die toernooi is vergroot van 20 tot 24 spanne, wat opgedeel sal word in ses groepe van vier elk. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê kaartjies sal van Februarie verkoop word en ‘n miljoen sal beskikbaar wees teen die laagste prys van een-duisend-167-rand. Sydney sal die halfeindstryde aanbied, asook die eindstryd op 13 November 2027.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-859-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….