Nuus 06:00
BULLETIN 30 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola vra vir VN-optrede oor ‘n tweestaatoplossing vir Palestina
# ‘n Energiekenner kritiseer Eskom se regstappe teen Nersa
# En rugby: Rassie Erasmus sê die Bokke maak gereed vir ’n moeilike Rugbykampioenskap
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola het bevestig dat Suid-Afrika dringende wêreldwye optrede ondersteun vir ‘n twee-staatoplossing vir Palestina en Israel. Lamola het by ‘n Verenigde Nasies-vergadering in New York die vernietiging van Gaza veroordeel en gevra vir erkenning van Palestina se staatskap. Lamola sê vrede hang af van die beëindiging van onwettige nedersettings, die vrystelling van gevangenes, en respek vir die internasionale wet. Hy het gewaarsku dat voortdurende geweld wêreldwye regstelsels ondermyn en kollektief aangespreek moet word:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê tugstappe sal gedoen word teen senior amptenare wat betrokke was by ‘n suurstofaanleg-tenderbedrogsaak ter waarde van 800-miljoen-rand. Dit volg op PricewaterhouseCoopers se forensiese ondersoek waarin vals dokumente en onreëlmatige verkrygingsprosesse aan die lig gebring is. Macpherson sê die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, kan moontlik geskors word oor haar beweerde rol. Hy beklemtoon aanspreeklikheid is nie onderhandelbaar nie:
# Die energiekenner Chris Yelland sê Eskom se regsgeding teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika is gevaarlik onvanpas. Die kragvoorsiener staan Nersa se besluit in 2024 teen om vyf nuwe elektrisiteitshandelslisensies, en ‘n oorgrens-handelslisensie, uit te reik. Eskom sê die handelslisensies is ‘n grondliggende en eensydige beleidsverandering deur Nersa, wat elektrisiteitsvoorsiening omver kan werp. Yelland sê Eskom se hofgeding verteenwoordig ‘n regstreekse aanval op hervorming.
# Die vier beskuldigdes in die moord op DJ Sumbody en sy lyfwagte staan nou tereg op nog aanklagte nadat die polisie hulle verbind het met ander hoë-profielmoorde in Gauteng. Katiso Molefe, Michael Pule Tau, Musa Kekana, en Tiego Mabusela word glo verbind met die moorde op Hector Buthelezi, ook bekend as DJ Vintos, en Don Tindleni. Die polisie sê ballistiese bewyse verbind die vier en vuurwapens aan verskeie sluipmoorde. Woordvoerder Athlenda Mathe sê Molefe se borgtogverhoor hervat op 6 Augustus:
# Rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê die span is besig met voorbereidings vir ‘n moeilike Rugbykampioenskapsveldtog wat op 16 Augustus teen die Wallabies in Johannesburg afskop. Hy het die belangrikheid van die twee-weke oefenkamp beklemtoon en gesê dit is noodsaaklik om te verseker dat afrigters, spelers, en die hele bestuurspan belyn is en reg is vir die kompetisie. Die Springbokke het die prestige-toernooi verlede jaar vir die eerste keer sedert 2019 gewen. Die Bokke beëindig die eerste week se oefenkamp môre en kom weer Sondag in Johannesburg bymekaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-887-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Aanhangers van die musieklegende Ozzy Osbourne sal hulde aan hom kan betoon wanneer sy stoet later vandag deur sy tuisstad Birmingham beweeg. Osbourne is op 22 Julie in die ouderdom van 76 dood, minder as drie weke nadat hy en Black Sabbath ‘n afskeidskonsert gehou het. Die Birmingham-stadsraad sê die geleentheid, wat deur ‘n privaat begrafnis gevolg sal word, sal sy familie die kans gun om die huldeblyke te aanskou wat deur sy lojale aanhangers agtergelaat is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….